1 Timoteus 1:11 volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.
Hierdie sin van Paulus kan so maklik in die verbygaan gelees word sonder dat ons raaksien wat Paulus oor die Evangelie aan Timotheus bekend gemaak het.
Eerstens beskrywe Paulus die Evangelie as heerlikheid, en die heerlikheid van God, en dat God salig, geseënd is, en dat Hy aan ons Sy heerlikheid openbaar en toevertrou deur die Evangelie!
Nou alhoewel dit eenvoudig na bekende beskrywinge klink, hoor net gou weer wat die Griekse woord μακάριος (makarios) beteken: "Uiterste blydskap, groot blydskap en vol vreugde."
Sien, nes Timotheus moet ons herinner word dat die Evangelie nie net sommer Goeie Nuus is nie, maar die uiterste goeie nuus van God wie geseënd is en Sy blydskap ook aan ons bekend maak en toevertrou.
Moet dit asseblief nie mis nie, want deel van God se heerlikheid soos weerspieël in die Evangelie, is in Sy uiterste blydskap, Sy groot vreugde danksy Jesus Christus!
Ek meen dink aan die bekende woorde: "Dit is my Geliefde Seun in wie Ek ??? 'n welbehae het!"
Maar ongelukkig mis soveel mense God se vreugde en verdink Hom as 'n nie-entoesiastiese -net teleurgesteld en kwaad vir die mens Vader in plaas van om die heerlikheid van die Evangelie te aanskou en deur Christus die rede vir Sy groot blydskap te aanskou oor ons.
Selfs Dawid het in Psalm 16:11 geskrywe: "U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor U aangesig, lieflikhede in U regterhand, vir ewig (Psalm 16:11)."
Jesus Christus is die Weg, die Pad van die Lewe:
Jesus is die versadiging van vreugde voor God se aangesig.
Jesus is die lieflikhede uit Vader se regterhand.
Ja Jesus is die rede hoekom die Goeie Nuus van God werklik goed en heerlik is en waarom God self Sy vreugdesboodskap aan ons toevertrou.
'n Direkte vertaling van Paulus se woorde aan Timoteus kon ook so klink: "volgens die heerlike Evangelie van die blye God wat aan my gegee is."
Aanskou jy God se vreugde, Sy groot blydskap in die Evangelie waardeur Hy aan jou Sy heerlikheid bekend maak in die Jesus Christus?
Aanskou jy God se blydskap hoe Hy aan jou bekendmaak en wat die Seun met ons kom doen het deur Sy kruisdood en opstanding sodat ons deur Hom voor Sy aangesig kan lewe, versadig kan wees met Sy vreugde en met die lieflikhede uit Sy regterhand leef?
Want enigeiemand wie hul tot Christus bekeer en Hom ontvang, sal besef hoekom ons dan in die blydskap van God kan deel, en hoekom Paulus menige kere kon skrywe: "Verbly jul in die Here."
Nes die Vader se welbehae in dié Seun is, sal elkeen wie deur geloof in die Seun leef, draers wees van die heerlikheid van die salige God.
Amen