Kolossense 4:2-3 Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging, en bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus, waarvoor ek ook in boeie is.
Paulus se behoefte destyds, behoort ons s'n te wees vandag. Eerstens herinner hy ons om nooit ooit op te hou bid nie, en om te bid vanuit danksegging.
En dan noem Paulus iets wat ek glo elke gelowige vir hulself en verseker vir mekaar hoort te bid: dat God 'n deur vir ons sal oopmaak dat ons die Woord kan meedeel. Terloops, Paulus het nie hier gevra vir gebed dat die deur van sy tronksel moes oopgaan nie, nee nee, maar dat God 'n deur vir hul sou oopmaak om die Woord van Christus te deel 👏.
Ons bid so dikwels vir die "toe deure" om oop te gaan, meenende dat ons situasies moet verander ipv om te vra binne in ons situasies vir dié kosbare deur van n geleentheid om oop te gaan binne in omstandighede om van die geheim van Christus te getuig.
Die Griekse woord ἵνα (hina) beteken meer as net SODAT, dit beteken "vir die enigste doel."
Sien die deur wat Paulus voor wou hê ons vir mekaar voor moes bid is dat God daai daaglikse geleenthede sou skep, sou oopmaak vir net een doel: Om die waarheid van die Woord van Christus te deel, net mooi daar waar ons is.
En dis hoekom sy gebedsversoek ons ook hoort aan te spoor om vir mekaar te bid, te bid dat God die deure van geleenthede vir ons sal oopmaak tot 'n getuienis van Jesus.
Min mense weet egter dat Paulus nie net gewoonweg in die tronk was nie, maar permanent geboeid was aan 'n Pretoriaanse wag, iemand heeltyd aan sy sy. Onthou, ons almal is ook op n manier aan mense gebind, ja geboei by die werk, verbind aan familie en vriendskappe en gemeenskappe.
Die ding is, sien en ervaar hulle die verborgenheid van Christus in ons lewens? Sien en weet hulle hoekom ons anders optree as die wêreld? Dis juis hoekom ons moet bid vir die Here vir daardie oop deur om te kan deel en te dien vanuit Christus.
So kom ons bid vir mekaar dat God daardie deure sal oopmaak vir diegene rondom ons, dat ons Christus kan deel.
Kom ons bid met danksegging vir die daaglikse geleenthede waarin die Here vir ons deure kan oopmaak dat ons ook die verborgenheid van Christus kan meedeel en uitleef sodat ander kan sien, en die Woord te kan hoor wat getuig waarom ons gered, verlos, vernuwe en vervuld kan lewe in Jesus Naam.
Amen