Johannes 12:26 As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.
Ek wonder sommer hoeveel gelowiges in Christus werklik begryp watter voorreg dit is om Jesus te volg? Hoor mooi - Jesus self het gesê dat waar Hy is, ons ook sal wees, meenende, ons sal nooit van Hom geskei wees nie!
Vinnige vragie: waar is Jesus nou op hierdie oomblik? Jip, in die hemel aan die regterhand van die Vader reg? Tog herinner Paulus elke gelowige in Christus oor en oor dat ons saam met Hom gekruisig is, saam met Hom opgewek is, en daarom nou na Sy hemelvaart ook saam met Hom daar in die hemele gaan sit het, want ons is in Hom, saam met Hom!
Dis juis hoekom Jesus verder kon bekend maak dat elkeen wie Hom volg, nie net saam met Hom sal wees nie, maar Hom sal dien, en hier is die wonder, hoor hier hoor hier....elkeen wie vir Jesus dien, sal die Vader self eer! Ongelukkig leef so baie mense vir die eer van mense, maar as jy Jesus volg, hoort jy te weet, daar is geen groter eer as dié van die Vader nie, geen!
Die Griekse woord (τιμάω) Timaó beteken: "om waarde toe te ken wat die persoonlike agting vir of van iemand weerspieël." Timaó wys vir ons duidelik waarom die prys wat vir ons betaal was, ons waarde in die Vader se oë bekend maak.
Ons waarde lê tenvolle opgesluit deur Jesus en in Jesus.
Niks en niemand in hierdie wêreld kan my waarde verhoog of verlaag nie, want dit is in Christus, en daar is geen hoër waardebesef as om te weet as dienaar van Christus, is ek by Hom en die Vader se eer geld oor my!
Dink n oomblik na hieroor, want daagliks jaag so baie mense die eer van ander na, terwyl ons elke dag kan leef met die grootste eer van almal, dié eer van die Vader.
Ek beroep my dus op Jesus se woorde, want Hy het gesê waar Hy is, daar sal ons wat Hom volg ook wees, reg daar by die Vader, en daarom sal ons nie ons besig hou om eer en heerlikheid van ander na te jaag nie, maar leef vanuit Sy eer en Sy heerlikheid soos die Vader aan ons gee.
Amen