Lukas 6:45 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.
Nou eks deeglik bewus daarvan dat meeste mense ken Spreuke 18:21 baie goed ken wat sê: Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.
Maar wat gaan in jou hart aan? Jesus het dit duidelik gemaak dat daar n direkte verband is tussen wat in ons hart is en die woorde wat uit ons mond kom. Wat ons sê en hoe ons dit sê, openbaar uiteindelik wat in ons hart aangaan.
In Matteus 6:21 lees ons dat Jesus gesê het: "Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees."
So die Griekse woord θησαυροῦ (thesauroū) was 'n stoorkamer waar mens dinge bewaar het wat vir jou die waardevolste was, sodat jou skatte veilig kon wees. So as ons hart dus daardie vermoë besit om dinge te bewaar en veilig te stoor, beteken dit eenvoudig dat ons óf die woord van Christus in ons koester en bewaar, óf nie.
Paulus het geskrywe dat die Woord van Christus RYKLIK in ons moet woon (Kol 3:16), meenende in sy volle omvang en volle waarde.
Maar dan lees ons dat Jesus nog n besondere woord gebruik het om te toon dat die mond dit wat in die hart is verwoord, die Griekse woord περισσεύματος (perisseumatos), wat beteken: "oorvloedig, meer as genoeg."
Dit bring ons by die vraag: Sal ander mense iets van die goedheid van God kan hoor en raaksien deur hoe ons praat? Sou hulle n skat raaksien in die manier waarop ons woorde oor ons lippe kom? Sal enigeen kan ervaar dat God liefde is en alles wat Christus vir ons gedoen het wanneer hulle ons woorde sou aanhoor?
Nou kyk, as ons hierdie woorde van Jesus letterlik sou vertaal, sou ons gelees het: Die goeie mens bring uit die goeie stoorkamer van die hart die waardevolste voort, en die slegte mens bring uit die slegste skatkamer die slegste voort. Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.
Paulus het die gelowiges in Christus herinner om geen SLEGTE woord uit hul mond na vore te laat kom nie, maar net wat goed is vir noodsaaklike opbou, tot stigting, sodat ons woorde genade aan elke hoorder kan gee met wie ons woorde meedeel (Efes 4:29).
Mag dié Woord, Jesus Christus, se woord ryklik in ons woon, sodat ons woorde vandag en elke ander dag ander opbou in die rykdom van Sy genade. Mag die stoorkamer van ons hart vol wees van net een skat, Christus, sodat Sy goedheid, Sy liefde, Sy lig, Sy medelye, Sy vergewing, Sy heiligheid, Sy vermaning en Sy blydskap oorvloedig oor ons lippe vloei.
Amen.Start writing here...