Deuteronómium 7:17-19 “As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan verdrywe? — wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die Here jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het, die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur die Here jou God jou uitgelei het; so sal die Here jou God aan al die volke doen vir wie jy bevrees is."
Toe ek weer Moses se woorde van destyds lees, het dit my dadelik laat dink aan ons. Want sien, wat Moses destyds aan die volk voorgehou het oomblikke voordat hy die leierskap aan Joshua sou oorhandig, was woorde waarin hy wou seker maak wat die volk in hulle harte oor moes nadink. Dit wys duidelik heen na wat ons deur geloof; in Christus; in ons harte behoort te oordink elke dag.
Moses het geweet dat die mens geneig is om tydens teëkanting en teenstand homself vas te staar in die grootte van dit wat teen ons is, so asof dit groter en sterker en magtiger is.
Dis hoekom Moses die volk herinner aan iets anders wat hulle oë al gesien het - die tekens en wonders vanuit die sterke hand en die uitgestrekte arm van die Here!
Indien mens kyk na die konteks van Deuteronomium 8, sal jy sien dat Moses geweet het dat hyself binnekort nie meer saam met die volk die toekoms sou ingaan nie, en hy het geweet dat die volk maklik sou vrees en twyfel as hulle hulle nuwe teenstanders sou teekom en nie in hulle harte bewaar wie hulle bewaar en versterk en bekragtig vir elke dag nie.
Sy woorde daardie dag sou die hele Israel laat terug dink aan hoe hul Egipte verlaat het na dié nag toe die bloed van die lam aan hul deurkosyne die laaste sê gehad het. Dit het hulle ook herinner aan al die wonders vanaf die uittog uit Egipte; regdeur die 40-jaar in die woestyn deur die Here se hand en arm tot hier voor die Jordaanrivier, oomblikke voor hulle nuwe toekoms in die beloofde land.
Hoeveel te meer kan ons nie in Christus elke dag ontwaak met die waarheid in ons harte. Die sterke hand van God en die uitgestrekte arm van die Here het ons ook uit die slawerny van sonde bevry het deur die bloed van die Lam. Het hierdie, Sy kruisdood en opstanding, ons nie ingebring in n splinternuwe lewe in Christus nie?
As Moses kort hierna vir die volk bemoedig en gesê het: "Skrik nie vir hulle nie, want die HERE jou God is by jou, n groot en gedugte God," dan wil ek vir jou vanoggend vra: Waarom sou enige van ons vrees vir die dinge wat voorlê, as ons weet wie Jesus is? Hy is immers Emmanuel!
Nee nee, Hy is nie nou en dan by ons of somtyds of meeste van die tyd met ons nie, Hy is Emmanuel, God met ons!!!
Vriende, wat oordink jy regtig in jou hart?
Is dit nie wonderlik dat Paulus ons herinner om die dinge te bedink wat daarbo is, daar waar Jesus aan die regterhand van God sit en nie hier onder nie (Kol 3:2)? Het ons ouer boet Johannes nie ook geskrywe: Julle is uit God my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is (1 Joh 4:4)?
Mag ons harte gedurig bedink hoe Jesus die sterke hand van God en die uitgestrekte arm van die HERE is wat ons kom red en bekragtig en kom nuut maak het, sodat ons elke dag deur geloof in Hom kan ontwaak met n hart wat aan Christus behoort en weet: As God dan vir ons is, wie kan teen ons wees (Rom 8:31)?
Amen