Skip to Content

Die Gesalfde van God

1 April 2026

Die Gesalfde van God

Lukas 21:37-38 En Hy was oordag in die tempel besig om te leer, en snags het Hy uitgegaan en vernag op die berg wat die Olyfberg genoem word. En die hele volk het vroeg in die môre na Hom in die tempel gekom om na Hom te luister.

Min mense lees egter raak dat Jesus ook op hierdie Woensdagoggend weer vroeg na die Tempel gegaan het nes Hy Maandag en Dinsdag gedoen het. Hy het wel nie hierdie keer tafels omgekeer of mense uitgejaag of oppad soontoe vyebome vervloek of geprofeteer oor die toekoms nie, maar daar word wel getuig dat die hele volk na die Tempel gestroom het om na Hom te luister.

Na Jesus se laaste besoek en lering in die Tempel, lees ons van n besondere maaltyd in Simon die melaatse se huis.  Dit was tydens hierdie maaltyd waar daar weer n vrou met n albaste fles vol baie kosbare salf gekom het en dit oor Jesus se hoof uitgegooi het.

Natuurlik het die gasheer en die dissipels weer gedink dat dit n totale mors van geld was, maar dis juis Jesus se woorde aan hulle wat hierdie Woensdag merkwaardig maak, hoor wat Jesus gesê het: "Toe sy hierdie salf op My liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op My begrafnis. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot n gedagtenis aan haar (Matt 26:12-13)."

Hierdie merkwaardige daad het juis heengewys dat Jesus die Christus, die Gesalfde van God was wat binnekort vir die wêreld sou sterf en begrawe word.

Dit was net na hierdie woorde van Jesus, dat Judas Iskariot opgestaan en na die owerpriesters gegaan om te hoor wat hulle hom sou gee as hy Jesus aan hulle sou oorlewer, en hulle het vir hom 30 silwerstukke afgeweeg (Matt 26:14-15). Hierdie is wat mense wêreldwyd saam met die evangelie sou meedeel, net soos jy daarvan hoor vandag.

Eksodus 21:32 beskrywe aan ons dat daardie bedrag juis die prys was vir n slaaf onder die Ou Verbond.

Maar dit was God wat al jare van te vore reeds aan ons bekend gemaak in Sagaria 11:7-12 dat die Christus uitgekoop sou word onder die Ou Verbond met 30 silwer muntstukke, die waarde van n slaaf, sodat ons kan begryp dat Jesus met Sy lewe betaal het om ons wie slawe van sonde was los te koop, sodat ons in ‘n Nuwe Verbond, deur Sy bloed, kinders van God kan wees.

So mag dit wat jare en jare gelede op hierdie Woensdag gebeur het, spesifiek wat daardie vrou se daad na heengewys het, ook vir jou herinner aan wat Paulus geskrywe het in Romeine 6:6 wat sê: “aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.”

Amen..

Share this post
Tags
Archive
Watch and be READY!
31 March 2026