Skip to Content

Die grootste skat!

16 Julie 2026

2 Korinthiërs 4:6-7 Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.


Wat maak mens gewoonlik met ’n skat?  Aaah, jy koester en bewaar dit mos ne?


Wel, Paulus het bekend gemaak dat ons dié lig van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus het!  Die grootste skat wat ’n mens kan ontvang, is om God werklik te ken deur Jesus en te weet Sy heerlikheid is nou in ons!


Wat 'n onbeskryflike skat is dit nie?  Daars geen manier dat ons ooit die waarde van hierdie skat kan oordryf nie, maar met respek gesê, ons kan dit  verseker onderskat.


Dis hoekom Paulus ons herinner het in die volgende 2 verse dat hierdie skat in ons, verligting bring deur die kennis van die heerlikheid van God, want luister hoe bevestig Paulus dit: al word ons in alles verdruk, ons word nie terneergedruk nie; al is ons verleë, ons is nie radeloos nie; word ons vervolg, ons is nie verlate nie; word ons neergewerp, ons word nie vernietig nie.”

‭‭

Onthou julle, ons is erdekruike, broos, maar ons fokus moet nie wees op ons sterkte en krag nie, maar die skat in ons, die uitnemende krag van God!


Wat is nou weer binne in 'n gelowige in Christus?.....Die lig.....van die kennis....van die heerlikheid van God, IN DIE AANGESIG VAN CHRISTUS!


Koester daai skat, want wanneer jy verdrukking beleef, vanweë die skat, sal jy nie teneergedruk word nie!


Word jy soms verleë, raai wat, daai skat maak dat jy nooit radeloos hoef te wees nie!  Wanneer jy vervolg sou word as gevolg van jou geloof, raai wat, jy is nie verlate nie.


Nou goed, voordat sommige dalk vir my wil sê:"Ja Neil, maklik vir jou om te sê, jy word nie geslaan met die houe van die lewe wat ek vat nie" wil ek dadelik sê, ja ek weet nie waar deur jy gaan nie, maar ek weet dit: Hy wie die skat in jou geplaas het maak dit duidelik dat Hy met jou is en jy as gevolg van die skat nie vernietig sal word nie, want hierdie skat is die lewe in die lig van Jesus!


Toe God in die begin gesê het: "Laat daar lig wees" kon geen duisternis teen daardie lig stand hou nie.  Toe Jesus, die Lig van die wêreld na ons gekom het, skrywe Johannes: In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie (Joh 1:4-5).


Koester die skat van die lewe in Christus vanuit Sy heerlikheid, en jy sal sien, uit daai erdekruik van jou, maak nie saak wat nie, sal 'n lig skyn uit die krag van God wat niks en niemand kan uitdoof nie.


Amen

Share this post
Tags
Archive
A new creation in Christ
15 July 2026