Skip to Content

Die Here is met jou - Dapper Held

28 April

 Rigters 6:12-13 En die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: "Die Here is met jou, dapper held!" Toe vra Gídeon Hom: "Ag, my heer, as die Here met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die Here ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die Here ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.”

Gideon se roeping as Rigter, herinner my aan hoe maklik ons tot vandag toe nes hy geneig is om ons vas te staar in die negatiewe en slegte omstandighede om ons in die wêreld wat baie laat twyfel of die Here regtig by ons is, asook of ons regtig is wie Hy sê ons is.

In die Nuwe Testament lees ons menige kere wie elke gelowige in Christus is, maar nes Gideon, kyk ons met ons oë na onsself en sien nie werklik raak hoe en wat God om ons en in ons sien nie.

Maar prys die Here, Gideon se roeping weerspieël nie net ons twyfel en hoe ons dinge en onsself aanskou nie, nee nee, dit wys ons net weer dat geloof kom deur die gehoor, en die gehoor deur die Woord van God (Rom 10:17).

Sien, terwyl Gideon nog getwyfel het of die Here wel met Israel was, en nie geglo het dat hy ’n dapper held was soos God gesê het hy was nie, was dit die Here wat na Gideon gedraai en gesê het:"Gaan in hierdie krag van jou, en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie (Rig 6:15)?"

Wag ’n bietjie? Hierdie krag van jou?

Mens sou dink die Here moes sê Gideon moes in hierdie swakheid van jou gaan, maar dis nie wat ons lees nie, die Here het gesê krag?

Dis juis hier waar ons moet besef dat die Here se teenwoordigheid in ons lewens, juis ons krag is!

Daarom is die volgende woorde van die Here aan Gideon ook n herinnering aan elke gelowige in Christus tot vandag toe: "Is dit nie Ek wat jou stuur nie?"

Jesus stuur ons nie met die Evangelie in die wêreld in vanuit ons eie krag nie, maar juis vanuit Hom met n nuwe identiteit as nuwe mens wie nou gevul is met die krag van die Heilige Gees!

Die Evangelie van Mattheus eindig hoeka met hierdie woorde van Jesus: "En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen (Matt 28:20)."

Daarom kan ons nes Gideon sou herroep hoe die Here deur Sy krag jare van te vore vir Israel uit Egipte gelei het, herroep hoe Christus Jesus deur Sy kruisdood en opstanding ons gered het en nou vanuit Sy krag en sorg en beloftes en toedoen roep as ambassadeurs en rigters in hierdie wêreld!

Mag hierdie blitsige terug kykie op stukkies van Gideon se roeping as Rigter ons herinner om deur geloof in Christus te wandel, en nie in aanskouing nie.

Hy is Immanuel, God met ons, Hy is by ons, en Hyt ons geroep, nes Gideon, om elke sekonde te lewe vanuit Hom, dapper, vanuit Sy krag.

Amen

Share this post
Tags
Archive
LIFE!
29 April 2026