Skip to Content

Die LIEFDE van Jesus

7 Mei 2026

Johannes 15:9 Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.”


Het jy mooi gehoor wat Jesus gesê het? Hy het ons lief soos wat die Vader Hom liefhet!  Die dissipels het destyds al teen hierdie tyd geweet dat Jesus die Geliefde Seun van God was, maar nou het Hy aan ons bekend gemaak wie ons vir Hom is, en dat ons in daardie liefde van Hom moet bly.


Kerkmense praat so maklik van "broers en susters" en tog is daai titels wat so links en regs gebruik word nie net Christelike woordeskat wat gepas is in 'n kerk opset of 'n gemeentebyeenkoms nie.  Dit is woorde wat getuig van familie, woorde wat praat van wie ons onder mekaar is as geliefde kinders van ons Vader!  Dit getuig iets van geliefd wees as kind, kind van God, wat bly in dieselle liefde van die Vader vir die Geliefde Seun.


Terloops, die Griekse woord καθώς (kathoós) beteken: "presies soos, net soos, dieselfde"


Jesus verduidelik eenvoudig dat dieselfde liefde van die Vader teenoor Hom ook dieselfde liefde is wat Hy teenoor ons het, 100% DIESELFDE.  Menige mense ken Johannes 3:16: want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê, maar ken hulle Sy liefde, en bly hulle in daai liefde?


"Bly" is in Grieks die woord μείνατε (meinate), wat beteken: "om in te bly, om te wag in, om aan te hou, om te volhard, om in te staan, om te vertoef in."


Sy liefde vir ons behoort ons woonplek te wees!


Dis hoekom Johannes ook in 1 Johannes 4:15-16 geskryf het: Ons het die liefde wat God vir ons het, leer ken en geglo. God is liefde, en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom.


Dink hieroor na vandag, dat ons Vader agv Sy liefde vir die Seun, Hy nooit die Seun verlaat het nie, en Hy sal ons  wie in Christus is, ook nooit verlaat nie, want die presiese liefde wat Hy vir die Seun het, is die liefde wat Hy vir ons mee liefhet.


Mag jy werklik bly, regtig vertoef, elke dag volhard, en LEEF in Sy liefde.


Amen

Share this post
Tags
Archive
Bless the Lord, Oh my soul
8 May 2026