Markus 10:31 En hulle was op die pad terwyl hulle opgaan na Jerusalem, en Jesus het voor hulle uit gegaan, en hulle was verbaas; en terwyl hulle volg, het hulle gevrees. En Hy het weer die twaalf by Hom geneem en aan hulle begin vertel die dinge wat met Hom sou gebeur.
Hierdie enkele vers in die Evangelie van Markus beskrywe so mooi hoe dit moes wees om n dissipel van Jesus te moes wees, en met respek gesê, hoe die lewe van n dissipel tot vandag toe lyk, luister mooi:
- Hulle was op die pad met Jesus
- Jesus het voor hulle uit gegaan
- Hulle was verbaas
- Hulle was bang
- Jesus het hulle eenkant geneem en aan hulle verduidelik wat alles met Hom sou gebeur.
Aaaah - Hoe kosbaar is hierdie beskrywing van wat n dissipel beleef en ervaar darem nie? Ek meen, dissipels van Jesus ons is so geseënd om in ons lewenswandel saam met Christus te wees, en in Hom te wandel, wetende dat Heilige Gees elke tree van ons lewenspad met ons is. Nes die dissipels destyds agter Jesus aangestap het, gaan Hy ons nogsteeds voor deur die leiding van Heilige Gees, want getuig ons nie: Die Here is my Herder nie?.....Hy loop voor, en Sy kudde kom agterna.
Staan jy nie ook daagliks verwonderd en verbaas nes die dissipels destyds oor alles wat ons hoor en sien en beleef wat Christus doen in mense se lewens nie? Die grootste voorreg wat ons het is om in verwondering te staan oor die krag van Sy voltooide werk aan die kruis en hoe dit mense se lewens totaal en al nuut maak sodat ons ook kan opgroei in n nuwe lewe deur die krag Sy opstanding! Maar dan beskrywe Markus n ander realiteit; vrees. Ja, in al die wonderlike ervaringe en belewenisse van die dissipels, skrywe Markus dat terwyl hulle Hom gevolg het, het hulle gevrees, ....meenende, daar was baie oomblikke waar hulle bang was, veral nou oppad Jerusalem toe, onwetend hoe dinge sou uitdraai.
Beleef jy ook kere waar jy in jou wandel as dissipel agter Jesus aan bang raak oor die onbekende wat voorlê, al volg jy Hom? Voordat ons dit egter wil ontken, is die wonder dat Markus net hierna dievolgende geskrywe het, wat elke dissipel tot vandag toe vertroos en bemoedig en bekragtig, hoor hier: En Hy het weer die twaalf by Hom geneem en aan hulle begin vertel die dinge wat met Hom sou gebeur. Jesus los ons nie om dinge self te probeer uitsorteer en self ons kommer te oorkom en self ons dapper te hou nie, nee, Hy neem ons by Hom, en maak aan ons bekend wat ons dikwels nie sien nie Hallelujah! Niks hiervan het verander nie julle! Tot vandag toe trek Jesus ons nader na Hom deur die Heilige Gees en die Woord! Ek kan my net indink hoe die 12 moes voel toe Hy sê: Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig (Joh 16:12-13).
Geniet elke tree in Christus, agter Hom aan in Sy wysheid, geregtigheid, heiligheid en heiligmaking. Loof Hom vir daai oomblikke waarin ons daagliks verwonderd en verbaas staan. Koester die Heilige Gees in tye van benoudheid en kommer agv jou wandel as dissipel, en omhels tye waar die Heilige Gees jou eenkant toe neem en leer, want ons hoef nie in vrees te leef nie, want ons is op pad met Jesus!
Amen.