Kolossense 2:9-10 Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag;
Paulus het destyds 2 spesifieke Griekse woorde gebruik om seker te maak ons verstaan wie Jesus is, die woord κατοικέω (katoikeõ) wat beteken: "om permanent te bewoon of om permanent in te woon" en die Griekse woord πλήρωμα (pléroma) wat beteken: "volledig, die somtotaal van."
So, alles van God, die volheid van God, woon permanent in Christus.
Sy heerlikheid, Sy heiligheid, Sy majesteit, Sy liefde, Sy genade, Sy krag, Sy almag, Sy lig, Sy barmhartigheid, Sy geregtigheid, Sy wysheid, ja alles, alles alles alles van God, woon permanent in Jesus Christus.
Min mense weet egter dat Kolossense 2 vers 9 deel is van een sin, ja deel is van vers 10, en die interessante is dat die ander deel van die sin, nadat Paulus al die aandag op wie Jesus eintlik is laat val het, gaan oor elkeen wie in Hom glo.
Die res van die sin klink so: en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; Halleluja!
Kom ons kry gou die prentjie: In Christus, is alles van God permanent, en in Hom, en in Hom alleen, is elkeen wie in Hom glo, permanent volledig!
Aaah is die Here nie wonderlik nie!?!?
So baie mense leef daagliks onvervuld en probeer elke dag om dinge te doen of te sê om daai leemte in hulle te vul, opsoek na waarde, aanvaarding, dinge wat hulle glo hulle n vol lewe sal gee sonder enige tekorte.
Dis hoekom Paulus nie wou hê ons die volheid van God in Christus moes mis nie, want in dieselfde lig sal jy vanuit wie Jesus is sien waarom ons slegs in Hom volledig is, sodat ons vanuit ons geloof in Hom vanuit Sy volheid sal leef.
Dieselfde versoeking wat die gelowiges in Kolosse destyds in die gesig gestaar het, is dieselfde versoeking wat ons elke dag in die gesig staar: is geloof in Christus Jesus genoeg, volledig, genoeg om jou regtig vol te laat lewe?
Dis hoekom Paulus gelowiges ons herinner het: Sien jy wie is Jesus?
Hy is God, want die volheid van die Godheid woon permanent in Hom, en elkeen wie in Hom glo het die volheid in Hom sodat jy kan lewe vanuit die volheid van Sy heerlikheid, Sy heiligheid, Sy majesteit, Sy liefde, Sy genade, Sy krag, Sy almag, Sy lig, Sy barmhartigheid, Sy geregtigheid, Sy wysheid, ja Sy alles!
Amen.