Skip to Content

Die volle wapenrusting

1 September 2026

Luister hier


Efesiërs 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.


Paulus wou met alle erns hê dat gelowiges in Christus nie net die ware stryd in die lewe raaksien nie, maar gereed sou wees teen elke aanslag en volkome beklee in die wapenrusting van God.


Baie Christene is bekend met waarheid en geregtigheid en vrede en geloof en verlossing en die Woord, maar selde volkome daarin beklee, want hulle dra slegs kennis daarvan ipv om die volle wapenrusting van God te dra.


Luister, elke strategie en aanslag van die bose is 'n daaglikse poging om jou te vernietig en te oortuig dat jy nie in Christus Jesus is nie en steeds naak en kwesbaar en skaam voor God staan.


Maar as jy God se wapenrusting aantrek en jou met Jesus as die Waarheid omgord, en Hom as jou Geregtigheid en jy met altwee bene in die vrede van die Evangelie staan, en in Christus se geloof staan en Sy Verlossing aanhet, nogals met die Woord van God as jou swaard, sê die Skrif sal jy nie net aanslae oorleef nie, nee nee, jy sal staande bly teen al die liste en pogings van die vyand.


Sonder Jesus is jy n naakte soldaat in die stryd van die lewe om jou lewe, maar in Hom is jy beklee met Sy sterkte!  Kan jy sien waarom ons dan nou juis kan sterk staan in Christus en in die krag van Sy sterkte?


Kry gou met alle respek Paulus se prentjie hier, van 'n soldaat, maar nie n kaalvoet ene of een sonder n swaard of een sonder n skild, dalk sonder n helmut nie, nee nee, ene wie van kop tot tone beklee is in Christus, God se wapenrusting.


Nou daai hoort jy en ek te wees.


Heeltemal beklee in Christus.

Sterk in Christus.

Iemand wie staan in Christus.


God se wapenrusting soos Paulus beskrywe het herinner my sommer aan hoe nommerpas dit vir elke mens is, en dat ons binne in pas binne in die volheid van Christus as Waarheid, Geregtigheid, Vrede, Geloof, Verlossing en die Woord.


Sien ons hoef nie soos Dawid destyds bekommerd te wees dat Koning Saul se wapenrusting te groot en te swaar en ongemaklik vir ons is nie, want God se wapenrusting se mate is Koning Jesus, en alles van Hom beklee elkeen van ons volkome van kop tot toon.


Hierdie militêre taal gebruik van Paulus was spesifiek, sodat almal sou verstaan hoe ons in Christus staande kon bly tydens die werklike aanslae van elke dag, elke poging van die vyand om jou en my te keer om in die waarheid van Christus te leef, te keer om in die geregtigheid van Christus te leef, te keer om in die vrede van Christus te leef, en om ons te stroop van ons geloof in Christus, te keer om in die verlossing van Christus en vanuit Hom as die Woord van God te lewe.


Maar as jy aangetrek is in die Seun, sal jy nie net gereed wees nie, maar vas staan, van kop tot tone in Jesus Naam.


Amen.

Share this post
Tags
Archive
Servanthood
31 August 2026