Skip to Content

Doelgerigte Vennootskap

29 Mei 2026

Handelinge 20:4-5 En tot in Asië het Sópater van Beréa hom vergesel, en van die Thessalonicense, Aristárchus en Secúndus, en Gajus van Derbe en Timótheüs, en uit Asië Tíchikus en Trófimus. Hulle het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag.

Ons het sopas gelees van 7 manne wat Paulus destyds vergesel het totdat Lukas by hom sou aansluit, sommige van hulle is aan ons bekend, ander totaal onbekend aan ons.  Maar die wonder van hierdie verse is dat ons kan raaksien hoe alle gelowiges in Christus, bekend of onbekend 'n ewe belangrike rol speel in die Koninkryk van God!

Kom ek verduidelik: Lukas het 2 sterk Griekse woorde gebruik om hierdie 7manne aan ons te beskrywe.

Die eerste woord is Συνείπετο (suneipeto) wat beteken: “’n doelgerigte vennootskap."

So, al was hierdie 7 manne van verskillende nasionalite en verskillende kulturele agtergronde, was daar een doelgerigte vennootskap, omdat hulle besef het hulle is almal EEN in Christus, soos Paulus in Kolossense 3:11 geskrywe het: waar daar nie Griek of Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.  Onthou dit, want so dikwels wil mense Jesus deel aan ander, maar hul nasionaliteit en kultuur staan op die voorgrond, is belangriker, en dan is Christus nie alles nie, al is Hy in almal, in elke gelowige.

Die woord Συνείπετο (suneipeto) behoort elke gelowige in Christus te laat besef wat dit beteken om werklik Christene te wees, en nie net 'n klomp mense wat dieselfde geloof het maar verskillende rigtings inslaan en dit uitleef nie, want ons is een in Hom, in n vennootskap met mekaar, dit gaan oor Christus, Hy is alles en in almal!

Dit bring my by die ander woord waarmee Lukas hierdie 7 manne wat Paulus vergesel het; beskrywe het, die Griekse woord προέρχομαι (pro-ergomai).

Pro-ergomai beteken: “Om doelgerig vooruit te gaan en voor te berei."

Dit moet mos nou sin maak vir elke gelowige nie waar nie?... doelgerigte venote wat doelgerig vooruitgaan.   In Christus is ons een liggaam, in dieselfde vennootskap deur geloof in Hom, met een doel, Jesus!

Al was Paulus die prediker en al sou Lukas later aansluit en bydrae tot die bediening, het daai 7 manne wat Paulus destyds vergesel het, reeds gedeel in dieselle doel, en voorbereiding getref, vooruitgegaan vir dieselle doel.

Jou lewe as deel van die liggaam van Christus is ewe belangrik in wat die Here vandag in en deur jou in ander wil doen, of selfs voorberei om te doen.  Gelowiges in Christus is deel is van Sy liggaam, 'n venootskap waar dit gaan oor Christus en Hom alleen.

Mag jy ook herinner word dat Jesus die doel is, en dat elke tree wat jy gee en elke woord wat jy spreek en elke daad wat jy doen, die pad voorberei sodat Jesus alles in almal kan wees.

Amen

Share this post
Tags
Archive
The kindness and care of God
28 May 2026