2 Konings 5:I2-13 Is Abána en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? Kon ek my nie daarin was en rein word nie? En hy het omgedraai en vererg weggery. Toe kom sy dienaars nader en spreek met hom en sê: My vader, as die profeet u 'n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word?
Naäman was destyds die leerowerste en staatmaker van die Koning van Aram, maar hy was toe gediagnoseer met melaatsheid. Die Koning van Aram het toe n brief gestuur aan die Koning van Israel in die hoop dat Naäman deur hom genees kon word.
Die Koning van Israel het egter onbekwaam gevoel en die hele situasie in n ander lig gesien, totdat Elisa hiervan gehoor het en gesê het Naäman moes na hom gestuur word.
Na n lang reis met perde en waens het Naäman uiteindelik by Elisa se huis aangekom, maar ipv dat Elisa self uitgekom het en Naäman verwelkom het en hom bedien het, lees ons dat Elisa sy boodskapper na Naäman gestuur het met dié woorde: "Gaan heen, was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees."
So Naäman het natuurlik nes meeste mense vandag nog doen kwaad geword en weggegaan en gesê: "Kyk, ek het gedink: Hy sal sekerlik na my uitkom en staan en die Naam van die Here sy God aanroep en sy hand oor die plek heen en weer beweeg en die melaatsheid wegneem."
Aaah hoor jy sy woorde: "Kyk, ek het gedink."
Tot vandag toe staan soveel dinge wat ons dink in die pad van die deurbraak, verlossing, genesing, bevryding, groei, vergifnis, en versoening.
Maar dan lees ons iets merkwaardigs, Naäman se diensknegte kom navore en bemoedig vir Naäman om eerder gehoorsaam te wees aan die opdrag van Elisa eerder as wat hy dink.
Hierdie diensknegte herinner my aan 1 Petrus 4:10-11 wat sê: Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.
Sien eenvoudig, nie wat ons dink nie, maar vanuit die veelvuldige genade van God in Christus, want die ding is, om jou en my, is daar mense wat dink en voel soos Naäman.
Maar as diensknegte van onse Here Jesus, kan ons die wat wil wegstap van hul verlossing, genesing, bevryding en vergifnis bedien in die eenvoud van ware genade en liefde in Christus, eerder as om hul te los en te laat staatmaak op wat hulle dink.
Amen