6 Julie 2026 – Ek is ‘n Christen
1Korinthiërs 15:1-2 Broers, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
Deur die eeue heen het daar al menige teologiese formuleringe ontstaan wat gebou is op tradisies en belydenisse wat poog om iemand as n Christen te beskrywe. Maar as ons hierdie woorde van Paulus lees, wonder ek hoeveel mense werklik hulself Christene sal noem agv die Evangelie wat aan ons verkondig is, en dat hul Christenskap gebasseer is omdat hulle die Evangelie aangeneem het en in die getuienis daarvan staan, en natuurlik glo dat hul agv die Goeie Nuus in Christus gered is en alleenlik daaraan vashou?
Terloops, die Evangelie wat Paulus na verwys het, het hy in 1 Korinthiërs 15:3-5 voorgehou: “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf."
Het jy hierdie enigste ware Evangelie aangehoor? Is dit die Evangelie wat jy aangeneem het? Staan jy vas op die nuus van Jesus se voltooide werk in jou deur Sy kruisdood, begrafnis en opstanding?
Weet jy dat dit die nuus is wat verklaar hoekom jy gered is, en hou jy hieraan vas?
Want Paulus se woorde beskrywe eintlik in alle eenvoud n Christen, iemand wie die Evangelie AANGENEEM het, VASSTAAN in die werk van Christus wat hul GERED het, en nou volkome daaraan VASHOU.
Dis eenvoudig dan nie?
Ongelukkig was dit wat destyds in 53n.C gebeur het iets wat tot vandag toe nog gebeur, want soveel mense poog om as Christene te leef vanuit n geloof wat gebasseer is op doktrines en leringe en tradisies wat aangeneem is en daaraan vashou, in die poging om standvastig te kan staan as Christene.
Maar wanneer iemand egter die Evangelie aanneem en daarop staan, bely jy onbeskaamd in wie jy glo, onbeskaamd deur wie jy gered is, en onbeskaamd aan wie jy vashou!
Ek loof die Here dat ek die Evangelie aangehoor het, die Goeie Nuus kon aanneem dat Christus vir my sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe was en dat Hy op die derde dag opgewek was volgens die Skrifte; en dat Hy aan mense verskyn het, sodat ek deur geloof kan vasstaan in my redding op grond van wie Christus is en wat Hy in ons bewerk het, en dat dit die Evangelie is waaraan ek kan vashou en sonder geen twyfel onbeskaamd kan sê: Ek is n Christen.
Amen