Psalm 92:5 Want U het my bly gemaak, HERE, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.
Ek kon nie anders as om dadelik te dink aan die Here se handewerk in ons lewens deur die kruisdood en opstanding van Jesus Christus toe ek Psalm 92 lees nie!
Baie mense word dikwels sprakeloos of sonder die regte woorde gelaat as hulle vol verwondering die beeldskoonheid van die hemele aanskou, of hulle verkyk aan die wonders van die skepping.
Ander kere jubel mense behoorlik wanneer hulle getuig van die Here se handewerk dmv wonderwerke en ingrype wat hulle beleef het, maar wanneer dit kom by dié grootste werk van die Here se hande in ons lewens, sal almal van ons nes die Psalmdigter gevul word met blydskap!
Psalm 92 laat dink my so aan die bekende liedjie: 🎼Hoe groot is ons God, waar ons mos op n stadium sing: Hoe groot is ons God, ons sing hoe groot is ons God. Almal sal sien, hoe groot is ons God🎼!
Kan ander mense God se handewerk raaksien van wat Hy deur Christus se kruisdood met jou gedoen het?
Want elkeen wie in Christus glo kan verseker by die Psalmdigter van Psalm 92 aansluit en bely: U het my bly gemaak HERE deur U dade; ek jubel oor die werke van U hande.
Laat my ook dink aan Paulus se skrywe in Efesiërs 2:10 wat getuig: Ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat die Vader voorberei het sodat ons daarin kan wandel.
Mag die Here se handewerk deur Christus die rede wees waarom jy ook bly is, en jy jubel omdat Sy dade jou Sy meesterstuk gemaak het.
Mag ons Psalm en lewenslied getuig: Hoe groot is ons God, almal sal sien, hoe groot is ons God!
Amen.