Skip to Content

God sal oprig en bevestig in Sy krag

22 July 2026

2 Kronieke 3:17 En hy het die pilare voor die tempel opgerig, die een regs en die ander links; en die regter-een het hy genoem Jagin, en die linker-een Boas.


In die boek 2 Kronieke kry ons ’n gedetaileerde, indiepte kykie na hoe Salomo die Tempel gebou het, en dan eindig Hoofstuk 3 met 'n vermelding van 2 massiewe pilare wat voor die Tempel gestaan het.


Nou kyk, van al die name wat Salomo hierdie 2 pilare kon noem, het hy hulle spesifiek Jagín en Boas genoem.  Die rede was eenvoudig dat enigeiemand wie die Tempel sou nader, onmiddelik sou aanskou wat hierdie 2 pilare doen en verklaar, Jagín beteken: 


"Hy sal oprig en bevestig" terwyl Boas beteken: "In Hom is krag."


God sal oprig en bevestig in Sy krag.


Mense sou dadelik terugdink aan Eksodus 15:13 waar Moses bevestig het: "In u onwankelbare liefde sal U die volk lei wat U verlos het. In u krag sal U hulle lei na u heilige woning" asook Eksodus 15:17:"U sal hulle inbring en hulle plant op die berg van u erfdeel — die plek, HERE, wat U gemaak het vir U woning, die heiligdom, Here, U hande het bevestig."


Maar dis nie al nie, want hierdie 2 pilare het ook vooruitgewys na Christus, soos Jesus op 'n keer vir Petrus gesê het: op hierdie rots, (met verwysing na Petrus se geloof in wie Jesus is) sal Ek my gemeente bou!  Sien jy, Christus rig Sy gemeente op en bou dit vanuit Sy krag.


Interessant, Paulus het ook vir Jakobus en Petrus en Johannes destyds as die "pilare" van die vroeë kerk in Galasiërs 2:9 beskrywe, want hy het geweet dit sou mense herinner aan dat ons die Tempel van God is en dat die woord van die Evangelie wat hierdie manne verkondig het, juis bevestig hoe Christus Jesus ons oprig as Sy woning en dit doen vanuit Sy krag.


So, mag elke gelowige in Christus herinner word dat mense nes destyds al, op n afstand kan raaksien dat jy die Tempel van die Heilige Gees is, en ongetwyfeld kan aanskou dat Jesus jou opgerig het as Sy woning, en  dat jy is wie jy is vanuit Sy krag.


Amen

Share this post
Tags
Archive
Ask in my Name
21 July 2026