Handelinge 6:3 Kies dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel.
Kort na Pinksterdag het die vroeë kerk aansienlik vinnig gegroei, en daarmee saam sekere daaglikse behoeftes waarby die Apostels nie kon uitkom nie. Dit is hoekom al die dissipels geroep was en gevra was om 7 ander gelowiges onder hulle te verkies wie hierdie daaglikse verantwoordelikhede sou dra terwyl die 12 sou aanhou fokus op gebed en bediening van die Woord.
Hierdie verkiesing van die 7 ander dissipels hoort elke gelowige in Christus te herinner aan ons roeping en bereidwilligeid tot diensbaarheid in die liggaam van Christus asook as die liggaam van Christus.
Dis besonders om te aanskou dat die apostels se kriteria vir hierdie mede dienaars eintlik as te ware die handelsmerk geraak het wat alle ander gelowiges in Christus beskrywe!
Petrus-hulle het nie die mede gelowiges gevra om mense te soek met uitnemende vaardighede en talente of met die regte beroepservaring en agtergrond om die daaglikse behoeftes wat ontstaan het te kon aanspreek nie, nee nee, hulle moes kyk na mense met ’n goeie getuienis, vervul met die Heilige Gees en wysheid.
Ons almal is so geneig om uit te kyk vir mense met goeie ervaring en vermoëns, in plaas van om staat te maak op gelowiges met ’n goeie getuienis, gevul met die Heilige Gees en met wysheid, ongeag hul ervaring en agtergrond. 1 Johannes 5:10 sê: Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. 1 Johannes 5:11 sê dan: En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Dis elke gelowige se getuienis!
Ons diensbaarheid sal ook nie voortvloei vanuit ons ywer en krag en vermoëns nie, maar vanuit ons afhanklikheid van die Heilige Gees en Sy leiding en omdat Christus ons Wysheid is (1 Kor 1:30), sal ons as liggaam van Christus juis so optree en beweeg onder Sy Hoofskap, nie ons wil nie maar in harmonie met Sy wil, en so Sy hande en voete in hierdie wêreld wees.
Nes daai sewe manne die karakter en bevoegdheid van Christus sou beliggaam, hoort ons roeping en verkiesing as gelowiges in Christus in hierdie wêreld, ook dié wees van 'n goeie getuienis, gevul met die Heilige Gees, mense wie optree in wysheid!
Amen