DIT IS VOLBRING
Matteus 27:54 En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: "Waarlik, Hy was die Seun van God.”
My gebed is dat alle mense sal sien wat gebeur het toe Jesus op die kruis jare gelede op hierdie Vrydag gesterf het, nes die geharde hoofman oor 100 en sy leerafdeling by hom. Hy en sy soldate het al baie mense op 'n kruis sien hang en sterf, maar nog nooit het hulle die dinge ervaar en gesien wat hulle op daardie Vrydag jare gelede beleef het nie! As 'n leier oor 100 soldate was hierdie man iemand na wie al sy soldate sou luister en opkyk. Kan jy jou indink wat sy reaksie op sy 100 soldate gehad het toe hulle beleef wat hy net na Jesus se kruisdood gedoen het toe hulle reg daar by hom aan die voet van die kruis hulself bevind het?
So 6-ure van te vore het hy nog bevele gegee om Jesus te gésel, te spot, hy het nog toegelaat dat hulle Hom slaan en verneder, en nou roep hy uit dat Jesus die Seun van God was! Volgens Lukas het die hoofman oor 100 selfs erken dat Jesus n regverdige man was (Luk 23:47)!
Mag jy vandag herinner word aan die wonder van Christus se kruisdood, en sien en besef wie Hy is, besef en sien wat Hy deur Sy dood vir jou gedoen het, soos die hoofman oor 100 begryp wat dit alles beteken toe Jesus uitgeroep het DIT IS VOLBRING!
As ons sien en besef wat Christus se kruisdood aan en in ons gedoen het, behoort ons lewens ook geskud te word soos die aarde geskud het toe Hy Sy Gees gegee het en daar n aardbewing was.
Nes die Skrif getuig dat die voorhangsel van bo tot onder geskeur het, hoort ons harte oop te skeur nes die die hoofman oor 100 se hart oop geskeur is!
Mag jy aanskou dat die Seun van God deur Sy kruisdood ons gered het, ons vergewe het, ons vrygemaak het, ons versoen het met die Vader en ons n nuwe lewe gegee het!
Amen.