Skip to Content

Hier is ek, Here

19 Mei 2026

Handelinge 9:10 En daar was n dissipel in Damaskus met die naam van Ananía; en die Here het vir hom gesê: "Ananías!" En hy antwoord: "Hier is ek, Here."

Julle, hierdie enkele vers, ja net hierdie paar woorde van Handelinge 9 vers 10 het my net weer opnuut aangegryp vanoggend.

Nadat Jesus vir Saulus op die pad van Damaskus aangespreek het en alles wat daarmee gepaard gegaan het wat meeste van ons redelik goed ken, lees ons hoe Jesus spesifiek aan Saulus (wie meeste mense ken as Paulus) opdrag gegee het om na die stad te gaan en hoe Saulus se manne hom moes begelei omdat hy nie kon sien nie.

Dan lees ons kortliks hoe Saulus, dis Paulus, vir 3dae niks geëet en gedrink en gesien het nie, en dan, julle dan lees ons dievolgende woorde, hoor net hier: EN DAAR WAS 'N DISSIPEL IN DAMASKUS...

Hoor jy dit?  En daar was 'n dissipel……

Wag gou wag gou, ek hoop regtig hierdie woorde tref jou soos wat dit vir my vanoggend getref het......daar was 'n dissipel.

Nie n Apostel nie, nie Petrus of Johannes of Jakobus of of of, nie eers Fillipus of Barnabas of een van die bekende gelowiges wie ons in die afgelope 8 Hoofstukke van Handelinge leer ken het nie, nee, daar was n dissipel....’n dissipel.... met die naam Ananías.  Ek wonder hoeveel dissipels van Jesus Christus vandag, soos Ananías, beskikbaar sou wees as die Here ons ook roep?

Sou daar vandag, dissipels wees wie die Here kon vra om iets besonders te doen of selfs net erens te wees waar Hy ons wil hê?

En daar was 'n dissipel….

Is jy 'n dissipel van Christus, beskikbaar tot die gebruik van die Here, al mag daar ander gelowiges wees wat alombekend is en van wie mense sou verwag dat die Here hulle sou roep en spesifiek gebruik?

Hoor gou wat antwoord hierdie dissipel van die Here, wat antwoord Ananías vir die Here: "Hier is ek, Here."

Wow.

Nie: "Waarom sou ek nou dink die Here roep my?

Waarom sou Hy in die eerste plek vir my, n dissipel, nie n apostel, nie n prediker, nie n pastoor of ds nie, n dissipel wou gebruik?"

Niks van daai nie, net: "HIER IS EK, HERE."

En daar was 'n dissipel wat gesê het: hier is ek, Here.

Mag hierdie 2 eenvoudige goete wat ons sopas gelees het in een versie jou ook aangryp om elke dag te kan opstaan as n dissipel van Jesus, gereed om te reageer met: "Hier is ek, Here."

Amen

 

 

Share this post
Tags
Archive
A good man
18 May 2026