Skip to Content

IN ALLES!

20 Julie 2026

2 Korinthiërs 6:4-5 maar in alles beveel ons, ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede; in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly.


In alles.


Nou kyk, daardie woorde verander die fokus van enige gelowige in Christus Jesus heeltemal, want soveel van ons aandag gaan dikwels meer oor WAARMEE en WANNEER ons die Here dien, en dan kom Paulus en maak dit irrelevant in die lig van om God IN ALLES te dien.


Jy sien, baie mense sal graag wil antwoord WAARMEE hulle die Here dien, terwyl ander weer die aandag sal plaas op WANNEER hulle die Here dien, terwyl Paulus bloot getuig: IN ALLES.


Kan jy sien waaraan Paulus gelowiges in Christus aan herinner?


In Christus leef en beweeg en is ons, en daarom dienaars wat met elke tree en elke asem en elke doen en late kan lewe vanuit alles wat Christus in ons bewerk het, en ons diensbaar gemaak het deur aan ons  die bediening van die versoening te gee, wat so klink: En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou (2 Kor 5‬:‭18‬-‭19‬).


Sien jy wanneer en waarmee ons in alles die Here kan dien?


Dis presies hoekom Paulus n hele klomp dinge opnoem in 2 Korinthiërs 6 wat ons almal se lewenspaaie kruis, beproewinge, verdrukkinge, goeie tye, slegte tye, versoekinge, swaarkry, oorvloed, en IN ALLES bly ons dienaars van God met hierdie kosbare bediening van versoening in Christus!


In alles sê hard en duidelik dat gelowiges elke oomblik as 'n gulde geleentheid kan omarm om in hierdie gebroke wêreld vanuit die volheid van Christus te lewe, mense wie te alle tye in alles wat ons doen, in alles getuig van hoe God ons met Homself versoen het!


Mag die wêreld aanskou hoe jy in alles die Here aanhou dien en ander deur Christus bedien, of jy versoekinge beleef, verdrukkinge in die gesig staar, benoudhede en teekanting beleef, aangename of ongemaklike tye ervaar, teenoor God bly jy vanuit die liefde van Christus gedring en n dienaar wie in alles leef vanuit en vir die Here.


Amen

Share this post
Tags
Archive
Die grootste skat!
16 Julie 2026