Skip to Content

Ken jy Hom in al jou weë?

28 JULIE 2026

2 Kronieke 27:6 En Jotam het magtig geword, want hy het sy weë gerig voor die aangesig van die Here sy God.


Min mense is bekend met Koning Jotam wat vir 16 jaar in Juda regeer het, want meeste van die tyd val die aandag op sy pa, Koning Ussia, of dan wel sy seun, Koning Agas.  Wat mens wel opval van Jotam, is dat hy een van die min konings was wat regdeur sy koningskap gedoen het wat reg was in die oë van die Here, en dan lees mens selfs dat Jotam magtig geword het.


Nou gewoonlik wanneer mens so n stelling lees in 1 en 2 Kronieke, sien jy dikwels hoe die mag en gesag van Konings hul hoogmoedig gemaak het en stadig maar seker afvallig gemaak het teenoor die Here, maar nie in Jotam se geval nie.


Jy sien, na die woorde "en Jotam het magtiger geword," volg n beskrywing, die hoe, die rede hoekom hy magtig geraak het: WANT HY HET SY WEË GERIG VOOR DIE AANGESIG VAN DIE HERE SY GOD.


Wow. Die Hebreeuse woordjie כּוּן(kuwn) verwys na iemand wat: "opbou, oprig, vasmaak, 'n model voorhou en 'n raamwerk opstel en dinge vasstel."


Jotam het iets prakties gedoen wat menige Konings voor en na hom wel geweet en al gehoor en gelees het, maar nouliks in praktyk uitgevoer het, dit wat Koning Salomo nagelaat het in Spreuke 3:6: Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak.


Die Here het al Jotam se paaie gelyk gemaak, bloot omdat Jotam die Here in alles geken het.  Hoe geseënd is ons nie in Christus Jesus om te lewe voor die aangesig van ons Vader en met die Heilige Gees in ons nie?  Hoe geseënd is ons nie om letterlik Hom in alles en met alles te ken nie?


Maak nie saak wat dit is nie, gelowiges in Christus kan ALTYD in vrymoedigheid na n troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade kan vind om op die regte tyd gehelp te word (Heb‬ ‭4‬:‭16‬).


Jotam het geweet, as Hy die Here ken in al sy planne en idees en gevoelens en koningskap, sal sy lewenspad nooit sonder die inspraak en voorbereiding van die Here wees nie, want die Here maak die paaie gelyk.


Hoe meer ons ons oë op Christus vestig en Hom ken in alles wat ons doen, wetende dat ons in Hom leef voor die aangesig van ons Vader, hoe meer word ons lewenspad en besluite gevorm in Hom.


Die kort herinnering van Koning Jotam en sy optrede het my net weer opnuut herinner aan die voorreg om die Here te ken in al my weë, soos Paulus in Filippense 2:13 geskrywe het: Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae.


Amen

Share this post
Tags
Archive
Stand still!
27 July 2026