Romeine 15:1 Ons wat sterk is behoort die swakhede te dra van dié wat geen krag het nie, en nie net onsself te behaag nie.
Paulus was besig om te verduidelik hoe ons medegelowiges hoort te verdra en te stig wanneer ons mekaar se swakhede in geloof aanskou.
Jy sien, te dikwels begin diegene wie sterk staan in die geloof ander medegelowiges se swakhede raaksien in die verkeerde lig, en dan begin baie wonder of sulkes nie dalk besig is om hul geloof te verloor wanneer hulle eweskielik die Here in alles begin bevraagteken nie, so asof hulle net nie meer genoeg op die Here vertrou nie.
Maar dis net mooi hier waar elkeen wie sterk staan in die geloof deur Paulus herinner word om die wie swak is op te lig vanuit hul sterk geloof!
Paulus het self gesien hoe dié wat swak was egter later nog swakker begin voel het tussen die wie sterk was in geloof, en hoe maklik hulle dan hul geloof wou probeer aansterk deur godsdienstige eetgewoontes en sekere dae heiliger te ag as ander in die poging om nie meer so swak voor te kom onder die wie sterk staan in die geloof nie.
Daarom het Paulus spesifiek gemik in sy skrywe om dié wie sterk was in die Here, te herinner om ander wie swak was in die geloof te verdra, eerder as om ander te laat voel asof hulle harder moes probeer of meer moes doen om hul geloof te versterk.
Sterk gelowiges in Christus moet nooit neersien op ander wie dalk nie so sterk staan in die geloof nie, maar eerder ander bedien en versterk vanuit n onwankelbare geloof. Dis hoekom dievolgende vers so klink: Laat elkeen van ons sy naaste behaag tot sy voordeel, tot opbouing (Rom 15:2).
Ipv om te begin fokus op iemand se gebrek aan geloof, hoort ons eerder te fokus op die voorreg om ander vanuit ons standvastige geloof te bemoedig.
Dink bv aan hoe Jesus menige kere Sy dissipels se twyfel en kleingeloof moes verdra en hoe Sy geloof juis n getuienis was van n kragtige onwrikbare geloof wat hulle swakheid in geloof opgelig en versterk het. Nêrens sal jy lees dat 1 dissipel ooit gevoel het hulle moes maar stilletjies verdwyn het van Jesus omrede hul swakheid net nie kon opmeet teenoor Sy onmeetbare geloof nie.
Jy sien, onwrikbare geloof in Christus breek nie ander af of maak die wat swak is in geloof swakker nie, nee, dit lig eerder die wie swak is in geloof op en stig hul geloof, want in dit alles, verheerlik onwrikbare geloof altyd vir Christus, want dit getuig van Hom!
Amen