Nehemia 2:18 En ek vertel hulle van die hand van my God wat goed was oor my, en ook van die woorde van die koning wat hy my gesê het. En hulle sê: "Ons sal ons klaarmaak en bou!" En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk.
In 444 v.C. het Nehemia met die mense van Juda meegedeel wat op sy hart was, en dit was om Jerusalem se mure weer te herbou. Maar saam met sy versoek het Nehemia getuig dat God se hand van goedheid op hom was, en raai wat?
Hierdie eenvoudige getuienis van God se hand van goedheid op Nehemia se lewe het vir Juda so aangeraak dat hulle reaksie was: "Kom ons staan op en bou!" Min mense weet egter dat daai stadsmuur toe destyds in slegs 52 dae herbou was!
Nehemia se behoefte en getuienis het my dadelik toe laat dink aan Petrus se skrywe in die jaar 62 n.C. toe hy geskrywe het: "Kom na Hom toe as na ’n lewende steen, wat wel deur die mense verwerp is, maar by God uitverkies en kosbaar is; word julle ook, as lewende stene opgebou tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God aanneemlik is (1 Pet 2:4-5)."
Jy sien, nes Nehamia na die Here gegaan het met sy behoefte, gaan ons na die Here Jesus, die Lewende Steen, en nie net word ons opgebou tot lewende stene nie, maar ons getuienis van Sy goedheid en bou in ons lewens kan ander gelowiges inspireer om op te staan in Christus en saam deur Sy Gees in die Koninkryk van God te kan bou!
Rondom ons is daar soveel mense wie se lewens soos daai gebreekte stene van Jerusalem se stadsmure voor die herbou gelyk het, woes en stukkend. Maar as jy glo in Jesus Christus, sit jy met n getuienis van die Lewende Steen, en hoe enigiemand opgebou kan word tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, as hul na Hom sou gaan.
As Nehemia net sy behoefte tot herbou van stadsmure sou meedeel, sou hy slegs politiese gewilliges saam met hom kry om te probeer bou, maar toe hy sy getuienis van God se hand van goedheid op sy lewe meegedeel het, was die reaksie: "Kom ons staan op en bou!"
Mag ander mense om ons ook bemoedig word deur God se goedheid in Christus oor ons, soveel so dat hulle ook wil opstaan en na Jesus, die Lewende Steen kom sodat Hy hulle kan opbou tot lewende stene wat in alles wat ons doen, deur God se Gees gebruik kan word tot die opbou van Sy Koninkryk!
Amen