Romeine 15:18 - Want ek sal nie waag om iets te sê van die dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie-om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad.
Wow. Kyk hier, kan jy jou indink as alle Christene regtig erns maak met die Evangelie, en hierdie woorde van Paulus om-arm en hulle eie maak? Paulus het dit duidelik gemaak dat hy dit geensins sou waag om iets te sê of te leef (woord en daad....sy eie woorde) van die dinge wat Christus nie deur hom gewerk het nie!
So; Paulus bedoel in alle eenvoud dat hy nie waaghalsig was as hy van verlossing, vergifnis, versoening, heiligmaking, regverdigmaking, geregtigheid en seunskap getuig het in Christus Jesus nie, asook nog minder dat God genadig en barmhartig oor ons is en deur Sy liefde ons Sy Seun gegee het sodat ons deur Hom vanuit geloof in Hom kan lewe nie.
Dink gou mooi na oor sy stelling julle, want ek dink soveel mense praat waaghalsig oor Christus! Ek meen, as ons eerlik met mekaar moet wees, in die lig van Paulus se woorde, wat sal ek en jy in woord en daad leef as dit slegs dinge is wat Christus Jesus in ons gewerk het?
🤔🤔🤔Prys die Here dat ons nie waaghalsige stellinge hoef te maak of te probeer lewe nie, maar ons ten volle kan beroep op wat God met ons en in ons deur Jesus Christus gedoen het!
Sien, ons kan nes Paulus getuig dat ons nie waag om n ander lewe te lewe as wat met ons gebeur het in Christus nie, maar eerlik getuig in woord en daad wat Jesus vir ons en in ons bewerk het!
Gelowiges in Christus weet dat Jesus ons sonde totaal en al weggeneem het en letterlik ons ou mens saam met Hom gekruisig het, asook ons ou mens saam met Hom begrawe het nadat Hy deur Sy bloed ons gereinig het van al ons sonde.
Hy het deur Sy opstanding ons n nuwe lewe geskenk deur ons saam met Hom op te wek in n nuwe lewe waarin in die Vader se heerlikheid staan, geregverdig en met God versoen. Ons is uit die mag van duisternis verlos en oorgebring in die Koninkryk van God, en is nou kinders van God met die belofte van die ewige lewe!
God se liefde is letterlik in ons harte uitgestort! Ons is die woning van die Heilige Gees!
Ons getuig nie net in woord van God se genade liefde en transformerende impak in ons lewe nie, ons is regtig nuwe skepsels, die ou mens is verby!
Die fokus van n gelowige in Christus se lewe lê nie in wat óns vir God doen nie, maar wat God in ons, met ons en deur ons doen, alles agv die dinge wat Christus in ons gewerk het, en daarom waag ons nie om hierdie lewe in die Seun te leer nie, maar juis in die waarheid vanuit geloof in Hom al Sy werke ten toon stel in wat ons sê en doen.
Amen