Skip to Content

Lig van die Wereld

21 April 2026

Johannes 5:35 Hy was die lamp wat brand en skyn, en julle was gewillig om julle vir 'n tyd in sy lig te verbly.

Toe Jesus aan die Jode destyds bekend gemaak het dat Hy slegs sê en doen wat Hy die Vader hoor sê en doen het, het Hy op 'n stadium 'n kort getuienis gegee oor wat hierdie eindste mense onder die bediening van Johannes die Doper gedoen het, en toe ek weer hierdie woorde van Jesus lees, toe tref dit my eweskielik wat ons as gelowiges in Hom moet onthou tot vandag toe.

Sien, ons behoort te weet wie ons in Christus is, sodat ons nes Johannes die Doper ligte is wat skyn in hierdie wêreld, maar tegelykertyd moet ons besef, nes Johannes die Doper destyds, sal daar ook mense wees wat slegs vir n tyd lank hulle verbly in ons vreugde en lig.

Mattheus 5:14-16 herinner ons dat Jesus gesê het: “Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”

Nes Johannes die Doper kan ons skyn, aan die brand wees vir Jesus en natuurlik in Jesus.  Vriende, ons rol is om te skyn, ons is nie die middelpunt nie, ons lig val nie op ons nie, dit getuig van wie die ware Lig is, Jesus Christus!

Hy is die Lig van die wêreld wat ons lewens kom verlig het, want hoe skrywe Paulus nou weer in Efesiërs 5:8: Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig.

Dis hoekom Paulus ook kon skrywe dat ons onberispelik en opreg moet wees, kinders van God sonder gebrek te midde van 'n krom en verdraaide geslag onder wie ons skyn soos ligte in die wêreld (Fil 2:15)!

Ek wil jou bemoedig vandag dat ons n lig vir ander in hierdie wêreld moet wees, maar tegelykertyd moet ons onthou, mense gaan nie altyd positief reageer op hierdie lig nie, nes hulle ook nie hul verbly het in Johannes die Doper se lig nie.

Ons lig wys heen na die ware Lig, Jesus.

Kom ons leef vandag as lampe wat brand in hierdie wêreld in Jesus Naam.

Amen

Share this post
Tags
Archive
Fountain of Living Water
20 April 2026