Skip to Content

Losgekoop

12 Augustus 2026

Galasiërs 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word — want daar is geskrywe: "Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang."


Kom ons plaas net gou hierdie woorde van Paulus in perspektief: Die Wet van God openbaar duidelik aan ons hoe heilig en volmaak, geregtig en regverdig God is, sodat elkeen van ons wat die Wet aanskou sal saamstem met Romeine 3:19 en 20 wat sê: Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.


Selfs ons mees opregste en beste pogings om die Wet te gehoorsaam, skiet te kort, en die gevolg is dat ons almal die vloek van die Wet verdien, die regverdige toorn  en oordeel van God.


Maar prys die Here dat Hy genadig en barmhartig en goedertierenheid en liefde is, want in sy Efesiërbrief skrywe Paulus dat God al voor die grondlegging van die wêreld geweet het dat ons 'n Redder sou benodig, iemand wie sonder gebrek die volle losprys vir ons almal kon betaal om ons onder die vloek van die Wet uit te koop en ons sou bring tot aanneming as kinders van God.


En dis hoekom Paulus by die gelowiges in Galasië gepleit het om nie op hul eie werke of wetsonderhouding staat te maak nie, maar te aanskou hoe Christus aan die kruis 'n vloek vir ons geword het, dus ons plek volkome ingeneem het en die volle regverdige oordeel van God ontvang het wat ons as Wetoortreders verdien het.


Sien, nie net het Jesus aan die kruis vir jou gesterf nie,  maar aan die kruis het Hy die vloek vir jou geword, sodat jy deur Sy dood die seën van losgekoopte slaaf tot kind van God kon ontvang.


Dis Griekse woord ἐξηγόρασεν (exeigorasen) beteken: "om uit slawerny vrygekoop te wees binne in volmaakte vryheid."  


Hierdie woord was destyds allom bekend gewees wanneer ’n slaaf in die publiek uit slawerny uitgekoop was voor almal om te aanskou.


’So 'n verloste was nie meer as ’n slaaf gesien nie, maar as iemand wie nou vry en verlos was.


En dit is presies wie elke gelowige in Christus nou is, nie meer slawe onder die Wet nie, MAAR verlostes en vrygekooptes deur Sy bloed.


Jy onthou nog die doringkroon wat mos in Jesus se kop ingedruk was voor Sy kruisdood?


Nou kom ek herinner jou sommer aan wat God vir Adam gesê het ná die sondeval in Genesis 3:17-18: "Vervloek is die grond ter wille van jou; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. En dorings en distels sal dit vir jou voortbring."


Daai doringkroon wat in Jesus, die laaste Adam se kop ingedruk was, het ook die vloek wat gerus het op ons sonde gesimboliseer, en Jesus het met daai kroon aan die vloekhout gaan hang om ons almal onder daai vloek los te koop en ons kom kroon met Sy geregtigheid en heiligheid deur Sy bloed, sodat ons nou kan lewe as vrygekooptes en kinders van God.


Daarom kan elke gelowige in Christus bely en sing: "I'm no longer a slave to fear, I am a child of God!"


Amen

Share this post
Tags
Archive
Crucified with Christ
11 August 2026