Skip to Content

Losgemaak

7 Augustus 2026

Galasiërs 1:15-16 Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie.


Die Griekse woord ἀφορίζω (aphorizo) beteken: "om afgesonder te word, afgegrens te wees en losgemaak te word soos wanneer 'n naelstring afgesny word, want nou leef jy vanuit en binne in n nuwe grens."


Paulus het hier verduidelik dat God deur sy genade hom losgemaak het van sy herkoms en moederskoot af sodat sy identiteit nou in Christus Jesus sou lê en nie as gebore Jood uit die stam Benjamin nie.


Maar dis nie al nie, want Paulus maak dit toe baie duidelik dat hierdie afsondering die Here behaag het, en dit sien ons in die woord εὐδόκησεν (eudokesen) wat beteken: "met goeie intensies van plesier, om te behaag."


Jy sien Paulus wou hê ons moes raaksien dat dit God se roeping was om Sy Seun in hom te openbaar, soveel so dat ons nie meer sy identiteit sou toeskrywe aan sy gebore nasionaliteit nie, maar vanuit Jesus Christus.


Nou hiers die ding, in die lig van die Evangelie, word Paulus se getuienis van afsondering en nuwe herkoms ook elke gelowige in Christus Jesus se getuienis!


Want presies soos by Paulus, is dit nie iets wat ons doen of laat gebeur nie, dis danksy God se genade, sodat enigeiemand wie in Christus Jesus glo en Hom ontvang, juis n nuwe identiteit ontvang waarin Christus geopenbaar word.


Ongelukkig klou soveel mense nog stewig aan hul identiteit vanaf hul moederskoot, en sien hulle hulself volkome as die produk van hul aardse herkoms, ipv om deur die genade van God in die lig van die Evangelie deur geloof in Christus te aanskou hoe God ons helemal losgemaak het van ons aardse herkoms sodat ons volkome vanuit Christus kan leef!


Jesus het deur meer as een gelykenis getuig hoe die skare in die hemel hul verbly as een sondaar tot bekering kom, en hier skrywe Paulus aan ons dat dit God behaag wanneer ons deur Hom losgemaak word van ons aardse herkoms en identiteit en in die Seun vind en vanuit Hom ons oorsprong geniet en leef as nuwe skepsels agv Jesus se toedoen deur Sy kruisdood en opstanding.


Daarom lees jy op ander plekke soos in Efesiërs en Kolossense hoe Paulus alle gelowiges herinner om hulself met die nuwe mens te moet beklee wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.


Mag jy saam met my deur geloof in Christus jou verbly en leef in die wete dat dit God behaag het om Christus ook in ons te openbaar, want daarvoor, nes Paulus, het ons niemand nodig in vlees en bloed om ons eers hiervan goed te keur of te oortuig nie, want jy weet wie jy IN CHRISTUS JESUS is.


Amen

Share this post
Tags
Archive
Understand & Act with insight
6 AUGUST 2026