Efesiërs 2:19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God.
Aaah Paulus het seker gemaak ons verstaan hoekom ons nie meer vreemdelinge en bywoners in God se Koninkryk is nie, want tot en met hierdie woorde, het hy in detail beskrywe hoe ons almal dood was in sonde, maar dat God ons in Christus kom lewend gemaak het en saam opgewek het en saam geposisioneer het in die Seun.
Dis hoekom Paulus nou die gevolg van Jesus se toedoen in Sy liggaam aan die kruis kom bekend maak het: so julle is julle dan nie meer vreemdelinge of bywoners nie, maar medeburgers van al die heiliges, en huisgenote van God.
Wow. Besef jy wat dit beteken?
Vandag nog moet mense aan sekere voorwaardes voldoen voordat jy 'n volwaardige burger van n land kan word as jy nie in daai land gebore was nie, en daarom wou Paulus hê gelowiges in Christus moes die erns besef dat hul lewe in Hom nie net nou en dan of soms geldig was as n koninkryksburger en koningskind nie, wat darem erken was tussen mede gelowiges by n Christen samekoms, maar in die wêreld ongeldig was nie.
Christene is nie bywoners of indringers in God se koninkryk nie, maar medeburgers en huisgenote, en daar dieselfde identiteit is wat ons uitleef in die wêreld.
Hiers hoekom: die woord huisgenoot (οἰκεῖο) beskryf letterlik iemand van dieselfde familie in dieselfde huis, met dieselfde adres en bloedgroep.
Dis hoe gelowiges in Christus hulself hoort te sien in die Koninkryk van God, want onthou, in Romeine 14:17 beskrywe Paulus dat die Koninkryk van God juis geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees is!
Ongelukkig leef baie Christene net as bywoners van die Koninkryk, want hulle woon Christen geleenthede by, maar stap die lewe in as vreemdelinge van die realiteit van die lewe in Christus.
Menige klou eerder vas aan hul aardse burgerskap of huishouding ipv Christus?
Leef jy as gelowige vanuit die voltooide werk van Jesus wat jou 'n ewige burger saam met al die heiliges binne God se Koninkryk as n huisgenoot sien?
Kyk destyds in Paulus se skrywe het huisgenote alles gedeel, want as jy n ware huisgenoot was, was jy familie, iemand wat welkom was aan dieselfde tafel onder dieselfde dak.
Dis wie Jesus ons van God die Vader gemaak het!
Daarom is die waarborg van hierdie besondere lewe as medeburger en huisgenoot nie n diploma of sertifikaat nie, maar die Heilige Gees is ons waarborg, en nes Hy Sy tuiste in ons kom maak het, begelei Hy ons om in die waarheid van Christus te leef en op te groei binne ons voorreg as medeburger en huisgenoot van God se Koninkryk.
Wat n voorreg om danksy Jesus te leef as n medeburger van God se Koninkryk en deel te wees van God se heilige-unieke kosbare ewige huisgesin.
Amen