Psalm 13:6 Maar ek-op U goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor U heil. Ek wil sing tot eer van die HERE, omdat Hy aan my goed gedoen het.
As jy mooi gaan kyk, sal jy sien dat Psalm 13 opgedeel in 3 segmente waarin elke gelowige kan assosieer wanneer ons soos Dawid deur moeilike tye en slegte omstandighede gaan.
Eerstens, nes Dawid, staar ons dikwels die probleem in die oë en vra vrae soos: "Hoe lank nog Here (v.1-2)?"
Maar dan kom fase 2 waar ons binne in daai omstandighede vir die Here vra om in ons te werk, nie net om ons te werk nie.
Daarom lees ons hoe Dawid vir die Here gevra het:
1. Aanskou wat ek deurmaak Here,
2. Verhoor my, en
3. Verlig my oë o Here.
En dan kry ons daai 3de fase, waar ons sien hoe Dawid sy aandag heeltemal vestig op wie die Here is, en waar Dawid bely dat hy die Here se goedertierenheid verwag en weet dat hy die redding van die Here sal sien en dat sy hart nog gaan juig oor die uitkoms en verlossing van hierdie stryd.
Nou baie kere, nes Dawid, wonder ons ook hoe lank die Here nog gaan neem voordat Hy ons te hulp gaan kom.
Maar mag ons in die wagtyd nooit vergeet om soos Dawid onsself volkome beskikbaar te stel dat die Heilige Gees in ons omstandighede binne in ons kan werk nie, sodat ons ook ons aandag volkome kan rig op wie die Here is en uitsien na Sy uitkoms.
Terloops, die Hebreeuse woord בָטַחְתִּי֮ (batachti) beteken: "om versekerd te wees, om veilig en sorgloos te wees, om jou vertroue te stel in, en te hoop."
Danksy onse Here Jesus kan elke gelowige met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, om barmhartigheid te verkry en genade vind om op die regte tyd te gehelp te word (Heb 4:16).
Paulus herinner ons ook gedurig om tsv ons omstandighede, ons te verbly in die Here, en ons vriendelikheid aan alle mense bekend te maak, want ons wie op die Here vertrou hoef oor niks besorg te wees nie, want in alles maak ons deur gebed en smeking aan die Here met danksegging ons gebede en versoeke bekend, en die resultaat skrywe Paulus, is n vrede, ja die vrede wat alle verstand te bowe gaan wat ons harte en sinne bewaar.
Ja hoe geseënd is ons nie om nes Dawid te kan bely dat ons op die goedertierenheid van die Here vertrou nie, en dat ons harte sal juig oor Sy redding, sodat ons tsv die stryd kan bely saam met Paulus: Ek is tot alles instaat deur Christus wat my die krag gee.
Amen