2 Korinthiërs 6:1-2 EN as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie. Want Hy sê: "In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.”
Tot vandag toe is daar gelowiges nes detyds in Korinte, wat wag vir "die regte tyd" of "die perfekte dag" voordat hulle dan volkome as verlostes en mense in wie God 'n welbehae het sal leef.
Paulus skrywe egter, ons moet KYK, ons moet RAAKSIEN, daai dag en tyd het reeds aangebreek, dis nie 'n tyd of dag wat nog moet kom nie, dis NOU, want die dag van ons redding en die tyd van welbehae het reeds deur God se genade vir ons aangebreek toe Jesus vir ons gesterf het aan die kruis en die nuwe lewe in Sy redding binne in God se welbehae aan ons kom skenk het deur Sy opstanding!
Destyds in Korinte het gelowiges gewag vir daai dag waar hulle sonder versoekinge en teekanting en slegte gebeure en weerstand teen sonde sou kon leef, so asof hulle dan eers werklik hulle geloof kon uitleef as verlostes en vreedsaam binne die welbehae van die Here te leef.
En dis waarom Paulus God se belofte wat Hy jare van te vore deur Jesaja bekend gemaak het aangehaal het, profetiese woorde wat heengewys het na Christus en alles wat Hy vir ons sou kom bewerk en skenk deur Sy kruisdood en opstanding sodat ons elke dag as dié perfekte dag en uur binne die welbehae van God as verlostes in Christus kan leef!
NOU is die aangename tyd en NOU is die dag van verlossing, nie eendag nie, nie later nie, NOU.
Waarom sou ons enigsins wou wag vir ’n meer gunstige dag of meer gunstige tyd om aan te breek voordat ons as verlostes in die welbehae van God kan leef in Christus as die dag en uur reeds aangebreek het en genadiglik aan ons geskenk is nie?
Juis daarom lê enige gelowige wie God se genade in Christus werklik verstaan en aanskou glad nie hindernisse of verwagtinge voor ander mense neer wat saamstem met die wêreld en sê dat mense maar moet wag vir die regte tyd of 'n beter dag voor hul as verlostes kan leef in die welbehae van God nie, nee nee, want in Christus weet ons en sien ons dat dit NOU die tyd, en NOU die dag is waarin ons vanuit God se genade in Jesus Christus kan leef!
Amen