Psalm 5:13 Want U seën die regverdige o HERE, U omring hom met welbehae soos met n skild.
Hierdie laaste sinnetjie van Dawid se lied wat ons ken as Psalm 5, behoort elke gelowige in Christus Jesus soooooooo te bemoedig! So hierdie Psalm was geskrywe in 'n tyd toe Dawid beleef het hoe hy omring was deur vyande wie sy Koningkryk wou vernietig.
Tog was Dawid versekerd, versekerd dat hy ook omring was met die welbehae van die Here!
Dis presies hoekom Dawid die Hebreeuse woord כַּ֝צִּנָּ֗ה (katsinnah) gebruik het om te bely waarmee hy eintlik omring was, want n katsinnah was 'n spesiale skild wat iemand wie n spesiale teiken was moes beskerm.
Kry gou die prentjie, dis nie n gewone skild waarvan ons hier praat wat jou van voor en so effe van die kante kon beskerm nie, nee nee, hierdie skild het jou omring, jou beskut, sodat jy as die teiken binne in die skild veilig omring was, al het die houe van die pyle en klippe geval.
Dis hoe Dawid homself en elke regverdige wie by die Here skuil beskrywe, mense wie deur die bose geteiken word en omsingel word, maar tog die eintlike teiken is vir die Here se welbehae wat jou omring.
Elke gelowige in Christus kan soos Dawid opstaan en met blydskap binne jou benoudhede Hom aanroep, en terselfdetyd getuig hoe ons deur Jesus se toedoen geregverdig is en dankbaar is dat ons nie net die teiken van die vyand is nie, nie net omring word deur die bose en onreg van die wêreld nie, maar juis die teiken is vir die Here se welbehae wat ons omring en beskerm!
Want net soos met Dawid, sal die vyand jou as Koningskind in Christus wil vernietig, maar nes Dawid, kan ons met sekerheid elke dag binnegaan en weet wat ons werklik omring, nie die vyand nie, maar die welbehae van die Here!
Dawid omskrywe die Here se welbehae oor ons in die Hebreeuse woord רָצוֹן (ratson) wat beteken: welwillendheid, aanvaarding, vreugde en welbehae deur guns!
Hallelujah!
Sien jy nie ook die Evangelie nie?
Besef jy dat God jou vanuit Sy welwillendheid aanvaar en met vreugde jou en my met Sy guns kom omvou het in Jesus Christus?
Geen wonder Paulus het geskrywe: Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alle dinge genadiglik skenk nie (Rom 8:31-32)?
Ja, nes Dawid is gelowiges in Christus 'n groot teiken vir die vyand, maar met alle respek, mag elke gelowige egter die groter teiken nie mis nie, nes op Dawid, dat die regverdige die teiken is van die HERE se welbehae en hoe Hy ons daarin beskut!
Hoeveel te meer kan ek en jy nie elke dag ingaan met n lied in die hart as regverdiges in Christus omdat ons deur die Here geteiken te word om beskut te wees deur ons Vader se welwillendheid, aanvaarding, vreugde, en Sy welbehae nie?
Amen