Romeine 6:10-11 Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.
Leef jy vanuit hierdie berekening deur geloof in Christus?
Paulus se woorde herinner my so aan die Rugbywêreldbeker finaal op 28 Oktober 2023, toe skeidsregter Wayne Barnes in Stade de France die eindfluitjie geblaas het.
Elke Springbok Rugby Ondersteuner het geskree: "ONS HET GEWEN!"....nie "HULLE het gewen" nie.
Die beste van als is, nie een Springbokondersteuner of Suid Afrikaner moes fisies op die gras van Stade de France saam met die span uitdraf vir die eindstryd nie, want die span wat Rassie gekies het, het elke Suid Afrika en elke Springbokondersteuner volledig verteenwoordig.
Toe daai eindfluitjie na 80minute geblaas het, was dit volbring, die telbord het getuig wie gewen het en elke Suid Afrikaner en Springbokondersteuner kon getuig: "ONS het gewen!"
Dis net jammer mense reken hulself as deel van daai span se oorwinning en misreken die grootste oorwinning wat namens die hele mensdom behaal was 2000jaar gelede aan n kruis op Golgotha.
Jesus was nie verniet die Seun van die Mens genoem nie, want Hy het daai dag nie net n nasie verteenwoordig nie, nie net Sy ondersteuners verteenwoordig nie, maar die hele MENSDOM.
Sy dood was vir die sonde van ons almal.
Toe Hy afgehaal was van die kruis en in die graf neergelê was, was dit vir almal.
En toe Hy uit die dood op die derde dag opgestaan het, het Hy dit namens ons almal gedoen, en Paulus skrywe dat ONS hierdie berekening moet maak en vanuit geloof in Christus lewe!
As Suid Afrikaners en Springbokondersteunes vir jare van "ONS" oorwinnings in 1995, 2007, 2019 en 2023 kan getuig, hoeveel te meer kan ons nie elke dag soos Paulus geskrywe MEER AS OORWINNAARS lewe deur geloof in Christus wie ons volkome verteenwoordig het nie.
Dis hoekom die som bekend gemaak het wat ons moet bereken: Toe Jesus gesterf het, het ONS gesterf, toe HY uit die dood opgestaan het, het ONS lewend geword, en deur geloof in Hom leef ONS nou ook vir God!
En nes geen Suid Afrikaner of Springbokondersteuner enige aandeel of punt op die telbord vir die span kon byvoeg nie, kan ons niks by die voltooide werk van Christus byvoeg nie.
Dit is volbring, want Jesus se laaste woorde aan die kruis is soos dié eindfluitjie, daarna kan niks weggevat of bygevoeg word nie, en ons kan deur geloof in Hom lewe, en getuig: ONS HET GEWEN!"....want in Christus is ek dood vir die sonde en lewend vir God!
Amen..