Johannes 20:22 En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: "Ontvang die Heilige Gees.”
Terwyl ons onlangs weer herinner was aan die ryke getuienis van Christus se opstanding uit die dood, het hierdie gebeurtenis in Johannes my net weer laat besef aan die diepte, maar ook die eenvoud van wat met ons gebeur het deur Christus se opstanding en wat ons deur Sy ontmoeting met die dissipels daardie aand hoort raak te sien.
Jesus, die opgestane Here, verskyn aan Sy dissipels Hy en blaas oor hulle - iets wat hulle nog nooit van te vore ervaar het nie. Hy wie die wind en storms aangespreek het, demone met die outoriteit van Sy stem laat vlug het, siekes op n afstand deur n woord kon genees, en dooies geroep het tot lewe, gebruik hierdie keer Sy asem.
Onthou jy wat staan in Genesis 2:7? En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword.
Aaah sien jy wie Jesus regtig is en wat Hy aan ons kom bekend maak het? Kan jy sien waarom Hy en Hy alleen aan ons n nuwe lewe kom skenk het?
Elkeen wie in Hom glo kan elke dag leef met die wete dat ons ou sondige natuur saam met Hom graf toe geneem was na Sy kruisdood, en dat Hy aan ons n splinternuwe lewe in die heerlikheid van die Vader kom skenk het deur Sy opstanding?
G’n wonder Paulus skrywe in 1 Korinthiërs 15:45 dat: Die eerste mens, Adam, het 'n lewende siel geword; die laaste Adam 'n lewendmakende Gees.
Jesus, die Laaste Adam, n lewendmakende Gees, kom skenk aan ons n heel nuwe lewe sodat ons werklik as nuwe skepsels kan lewe.
Die getuienis in Johannes 20 herroep die getuienis van die mens se skepping in Genesis 2, sodat ons kan begryp waarom Paulus bv in Romeine 8:11 kon skrywe: En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
Aaaah hallelujah!
Jesus se optrede in Johannes 20 toon duidelik dat Hy God is, en dat ons deur Sy dood en opstanding herskep is tot n nuwe mens met n nuwe lewe en n nuwe asem, asook n nuwe Gees.
G'n wonder Johannes het dit so mooi bekend gemaak reg aan die begin toe hy geskrywe het: Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is (Joh 1:12-13).
Daars geen groter voorreg as om uit God gebore te wees nie, en te kyk, die oue is verby, alles het nuut geword!
Amen