Titus 3:1-2 Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys.
Op 'n eenvoudige praktiese manier word Christene gevra om aan die owerhede en magte onderdanig te wees, om gehoorsaam te wees en gereed te wees vir elke goeie werk, asook om van niemand kwaad te praat nie, maar eerder vriendelik te wees.
Die probleem is egter dat soveel gelowiges dit hoor en dadelik dink dis onmoontlik, terwyl Paulus juis aan ons dié HOÉ om so te lewe beskrywe het: DEUR AAN ALLE MENSE ALLE SAGMOEDIGHEID TE BEWYS.
Kyk na Jesus, dis eintlik wat Paulus gevra het, kyk na Hom, en jy sal sien hoe Hy Homself verneder en gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis, soos Filippense 2:8 ons leer.
Ons aan die ander kant, raak so maklik besig met ONSself, hoe ONS ons geloof wil uitleef, en ONS manier van gehoorsaamheid, ONS getrouheid, ONS gawes, ONS gevoelens, maar wat van Christus se sagmoedigheid word bewys, ten toon gestel?
Jesus het gesê: Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word (Luk 14:11).
Selfs Numeri 12:3 getuig van Moses destyds: Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.
Wow, baie sagmoedig.....en ons in Christus?
Jy sien, as daar van ons gevra word om onderdanig en gehoorsaam te wees en te dien en vriendelik te wees vanuit sagmoedigheid, beeld ons juis Christus Jesus uit op hierdie aardbodem!
Om sagmoedig te wees in Christus sal ons in staat stel om aan owerhede en magte onderdanig te wees, ons in staat stel om gehoorsaam te wees, ons in staat stel om vriendelik te wees teenoor alle mense en boonop elke dag gereed wees vir goeie werke deur die krag van die Heilige Gees.
Sagmoedigheid is juis nie om voor te gee om minder te wees as wie ons is in Christus nie, inteendeel, dit is om vanuit die volheid van Christus te leef tussen al die ander mense op hierdie aardbodem.
AMEN