Lukas 6:22-23: Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.
Kort nadat Jesus n hele nag in gebed spandeer het en die 12 dissipels uitgekies het, lees ons hoe Hy die skare bedien het. Maar dan lees ons iets merkwaardigs terwyl Jesus menige mense bedien: "Toe slaan Hy sy oë op oor Sy dissipels en sê....."
Al was Jesus besig om die skare te bedien, het Hy spesifiek na Sy dissipels gedraai, Sy oë op hulle gerig en hierdie woorde gespreek terwyl Hy sy oë op hulle gehou het.
Jesus se woorde klink amper na 'n resep wat net nie die regte bestandele bevat nie, want hoe pas seën en gelukkigheid in by haat, verwerping, belediging en as mense jou naam sleg maak?
Meeste mense sien geseënd, salig en gelukkigheid eerder as die resultaat van ander mense se liefde, toenadering, opheffing en verhoging van jou naam! Wel, dis immers hoe die wêreld iemand as geseënd sou sien, maar Jesus het juis aan elkeen wie Hom volg en in Hom glo bekend gemaak, dat die realiteit van hoe n geseënde dissipel lyk, juis is ten spite van haat, teekanting, belediging en naamskending.
Dis nie ál vreemde stelling van Jesus nie, want Hy het ook bygesê as hierdie dinge gebeur, moet ons bly wees en opspring! G'n wonder Paulus het n klompie jare later geskrywe: Verbly julle altyd in die Here, ek herhaal, verbly julle (Fil 4:4).
'n Geseënde, gelukkige dissipel van Jesus is nie die resultaat van ander mense se liefde vir ons, ons populariteit by mense, of wanneer ons beloning ontvang vir wat ons bereik het nie, en dis verseker nie wanneer ons naam verhoog word nie.
Om Christus te volg is om te wandel in 'n blydskap wat jou laat opspring in tye van haat, in tye waar jy weggestoot word, in tye van belediging, in tye waar jou naam weggegooi word, ipv om in sak en as te gaan sit.
Hierdie uitsonderlike gelukkige lewe in Christus hang nie af van hoe dinge in die lewe vir ons uitdraai of uitwerk nie, want dis n geloofslewe in die Seun wat onomwonde weet dat God ons liefhet, en dat Hy ons ingetrek het tot teen Sy boesem, dat Hy ons verhoog en sal beloon, en dat Hy ons by die naam geroep het.
Mag ons in blydskap opspring elke dag en ander liefhê, ander intrek, ander opbou en verhoog, en ander by die naam aan Christus verbind.
Amen