Skip to Content

Sonder verdienste geregverdig, deur Sy genade

26 Februarie 2026

Lukas 2:9 En meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.

Is dit nie wonderlik om te weet dat die heel belangrikste, die beste nuus wat hierdie wêreld ooit moes aanhoor, aan n klomp herders bekend gemaak was nie?  Dawid, wie ook eens op n tyd n herder was, het soveel jare voor Christus se geboorte in Psalm 8:5-6 geskrywe: Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.

Met Christus se geboorte, het daar n engel van die Here die herders besoek, en die HEEL EERSTE OPMERKING WAT ONS LEES, is Lukas 2:9 wat sê dat "die heerlikheid van die Here rondom hulle geskyn het."

Hallelujah!

So Dawid het in Psalm 8:6 die Hebreeuse woord עָטַר (atar) gebruik, wat letterlik beteken: "om iemand te omring met heerlikheid, glorie en glans, en dan soos met n Koning, jou daarmee te bekroon."

As ons Dawid se woorde in gedagte hou, sal ons sien dat dit van die begin af God se plan was vir die mens, maar ons weet mos wat met die sondeval gebeur het, nes Paulus so mooi verduidelik in Romeine 3:23: almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.

Ons almal is deel van dié "hulle," maar prys die Here dat die storie nie hier eindig nie, en dat die storie van die herders op die aand van Jesus se geboorte dit juis kom bevestig, want God het Sy Seun gestuur!!!

Sien Paulus skrywe toe net mooi in die volgende vers, Romeine 3:24 verder van die "hulle": en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is!

Sonder verdienste, die herders het dit nie verdien nie, ons het nie, niemand het God se geskenk van die Seun wie ons kom regverdig het verdien nie, en tog, sonder verdienste, skenk God aan ons verlossing deur die Verlosser, Jesus Christus.

Wat maak jy met die Goeie Nuus van Christus Jesus?  Wat maak jy met die Seun wie jou, liewe mens, kom kroon het met Sy eer en heerlikheid sonder verdienste?

Want almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo (Joh 1:12).

Kyk, daars geen groter voorreg om vanuit Christus te lewe binne in die eer as kind van God nie, wetende, ek leef binne in Christus se heerlikheid.

Daardie groepie herders die nag met Christus se geboorte, herinner my altyd aan die voorreg wat ek het om in Christus te kan leef en getuig wat Jesaja in Jesaja 60:1 & 2 geprofeteer het: STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.

Staan op in Christus, en mag die heerlikheid van die Here oor jou gesien word en jy ander mense begelei soos n herder sy kudde lei na Christus Jesus.

Amen


Share this post
Tags
Archive
“An exceedingly good land—God's promises”
25 February 2026