Skip to Content

Sou die hand van die Here te kort wees?

24 Februarie 2026

Numeri 11:23 Maar die Here sê vir Moses: Sou die hand van die Here te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.

Hierdie woorde van die Here het kortliks gevolg nadat die volk opgepak het en vanaf Sinai deur die Paran woestyn beweeg het, n volle 2jaar nadat hulle uit Egipte verlos was en deur die Rooisee getrek het.

Kry gou die prentjie: Vir 2 jaar sien hulle die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags, en het al bitter water sien verander na soet, gekamp by palmbome, en water het al uit n rots gevloei om hulle dors te les, en manna het vir 6dae van elke dag van die week dag na dag uit die hemel geval.

Tog was dit dieselfde deuntjie, n klaaglied vol "gemoanery."

Dis toe dat die volk met groot ontevredenheid by Moses opdaag en ween en sê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. Maar nou is ons siel dor; daar's glad niks nie: net die manna is voor ons oë (Num 11:4-6).

Toe die Here dus vir Moses sê dat Hy vir hulle vleis sal gee vir n hele maand lank, soveel so dat dit by hul neuse sal uitloop (Num 11:20), het Moses egter gedoen wat ons dikwels doen: jy hoor wat die Here sê, maar jy staar jouself vas in wat voor oë is.

Dis toé dat die Here vir Moses vra: "Sou die hand van die Here te kort wees?"

Binne sekondes was Moses ontnugter om nie na die kudde te kyk of die detail van die omstandighede nie, maar eerder na die detail van wie die Here is en Sy Woord.

Hoeveel wondertekens het hulle nie al beleef nie, het ons nie al beleef nie, maar ipv om te vra en te klop en te soek soos Jesus ons geleer het om te doen, is dit net makliker om te kla en te moan en terug te verlang na "die goeie ou dae."

Paulus het in Filippense 4:6-7 aan elke gelowige in Christus geskrywe: Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes IN ALLES deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Ons danksegging is juis deur geloof in Christus, selfs wanneer ons die Here smeek, want ipv moan en kla, glo ons dat die hand van die Here nie te kort is nie!

Terloops, die woorde: "die hand van die Here" beteken: "God-in-aksie, Die Here se ingrype en reddende handewerk."

As die hand van die Here dit beteken, na wie verwys dit?.....Jesus Christus, want Hy is dié hand van die Here wat ten volle na die mensdom uitgestrek is, en verseker nie te kort is nie!

Ons kan egter leer by Moses en sien hoe maklik die gemoan en klagtes van mense teenoor die Here ons geloof begin beïnvloed, soveel so dat die man van God se geloofsberekening gekyk het na wat voor oë was, maar prys die Here vir Sy vraag: Sou die hand van die Here te kort wees?

Deur werklike geloof in Christus weet n mens dat die hand van die Here nie te kort is nie, en daarom kan ons in ALLES met absolute geloof in wie Hy is met totale afhanklikheid, in danksegging Hom nader, al is die realiteit en feite van ons omstandighede besig om ons anders te probeer oorreed.

Kyk, soms is ons ook in woestynagtige plekke, maar ons moet nooit versuim om dag na dag te verlang na die ware spys wat ons versadig nie, Jesus Christus, die Here se hand, want Sy hand is nooit te kort vir vergifnis, verlossing, bevryding, genesing of verkwikking nie.

Amen.


Share this post
Tags
Archive
Completely set free!
23 February 2026