Skip to Content

Sterf vir die Seun

15 September 2026

Luister hier


Psalm 9:1-2 Vir die musiekleier: op die wysie van: "Sterf vir die Seun." 'n Psalm van Dawid. Ek wil die HERE loof met my hele hart; en wil al u wonders vertel.


Psalm 9 se wysie waarop Dawid sy Psalm geskrywe het sê in die Hebreeuse teks: "Die dood van die Seun" en nie sterf/die dood vir die Seun nie.  Nou dit verander alles, want dadelik kan ek en jy sien hoe hierdie Psalm ons heenwys na Jesus toe!


Nes Dawid vol lof kon lewe en wou getuig van die Here se wonderdade, kan ons met n hart vol lof leef as gevolg van die dood van die Seun, Jesus Christus.  Niks anders as n loflied sal in ons harte opkom en heers as ons erns maak met die wonderdaad van God in ons deur die dood van die Seun Jesus Christus nie.


So die wysie waarna Dawid verwys het, was destyds 'n loflied, 'n lied waar die melodie mense begelei het om die Here te prys vir Sy wonderdade.


Interessant, die woord wat Dawid gebruik het wat ons vertaal met "vertel" is die Hebreeuse woord אֲ֝סַפְּרָ֗ה (sappherah) wat beteken: "Ek sal tel, dan dit oorvertel, daaroor praat, dit uitspreek, ja dit vier en so ander vertel."


Wow.  Hoort dit nie n kosbare beskrywing te wees van elke gelowige in Christus se lewe nie?


Iemand wie die Evangelie bereken het en nou deur geloof in Christus met lof lewe, soveel so dat jou lewe dit wat Jesus in jou gedoen het oorvertel, en ander die getuienis aanskou en aanhoor van wat deur die dood van die Seun met ons gebeur het!?


Dis wat Paulus in Romeine 6:11 geskrywe het juis in die lig van die dood van Christus: So moet julle ook reken (tel) dat julle wel dood is vir die sonde, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.


Ons hoor daagliks so maklik ander mense en die wêreld se stories aan as dit vertel word op die wysies en melodië van hoogte en laagte punte, maar dan is die vraag: leef ons met n hele hart vol lof op die wysie van die dood van die Seun en die wonderdaad daarvan in ons lewens?


Want hierdie wysie is aansteeklik, en wanneer dit gedeel word, sal ander mense ook kan tel, en sien hoe die Evangelie oor en oorvertel word.


Mag jy met jou hele hart vol lof op die wysie van die dood van die Seun leef, soveel so dat jou lewe vertel van die wonder van die Evangelie, en ander nie kan help om ook te bereken wat met hulle en vir hulle deur die dood van die Seun Jesus Christus gebeur het nie, en dat sulkes hulle tot Christus sal bekeer.


Amen

Share this post
Tags
Archive
Omring met die welbehae van die Here
11 September 2026