Efesiërs 3:20-21 En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.
Gelowiges in Christus glo dat Jesus magtig is om dinge vir en in ons te kan doen, maar hoor mooi wat skrywe Paulus: ver bo wat ons dink is moontlik en ver bo dit wat ons bid en Hom voor vertrou is Hy by magte om te doen.
Hoor jy, VER BO.
Nie naby nie, nie n entjie nie, nie heelwat nie, nie net bokant ons begrip en perspektief nie, VER BOKANT dit. Sy magtige werke vir en in ons oorskry ons begrip van presies hoe en wat Jesus kan doen in terme van wat ons vra in gebed en wat ons dink moontlik is.
Maar ongelukkig haak ons dikwels vas op hierdie gedeelte van wat ons lees en vergeet skoon wat Paulus verder aan ons bekend gemaak het hier, en dit is, dat al is Jesus magtig om te doen ver bo wat ons bid of dink, Hy dit doen deur kragtig binne in ons te werk tot Sy heerlikheid.
Het jy dit?
God doen meer in ons as wat ons bid of dink en dit bring die eer aan Jesus.
Dis hoekom die woorde "volgens die krag wat in ons werk" waardevol is.
Sien, wanneer ons in geloof die Here Jesus nader, kan ons met sekerheid weet dat Hy magtig is om ver bo wat ons bid of dink te kan doen, maar meer as dit, ons moet bewus wees dat Hy in ons kragtig werk tot Sy eer!
Sien, in plaas daarvan om te fokus op hoe ons dink ons moet vra en wat ons dink Jesus kan doen, aanbid ons Hom met die wete dat Hy magtig is om ver bo ons denke en gebede te doen en dat Hy kragtig besig is om in ons te werk tot Sy eer.
Jesus se almag en heerlikheid word nie net gewys in die antwoord op ons gebede nie, of in die oomblik wanneer ons gedagtes uiteindelik begryp hoe Hy ons antwoord op ons versoeke of behoeftes nie, nee nee, iets groters vind plaas, Hy word reeds verheerlik wanneer ons bid en die dinge bedink met die wete, Jesus is magtig, so magtig dat Hy doen ver bo wat ons bid of dink, en werk deur Sy krag in ons.
Ons gebede en denke oor Christus moet nie grense stel van hoe ons Sy almag aanskou of verstaan nie, maar Hom juis in geloof nader met die besef dat Hy ver bo wat ons bid of dink doen volgens die krag wat Hy in ons werk tot Sy eer.
Amen