2 Kronieke 17:6 En sy hart het moedig geword in die weë van die HERE, en verder het hy die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda verwyder.
In die Bybelboeke Konings en Kronieke, lees mens meestal van hoe die Konings van Israel en Juda gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, en slegs nou en dan van Konings wie die Here met hulle hele hart gesoek en gedien het, soos Koning Josafat.
Maar dan lees mens ook iets besonders van Josafat wat mens nie van te vore gelees het van ander konings nie, en dit is dat Josafat se hart MOEDIG geword het in die weë van die HERE.
Nou die Hebreeuse woord גָּבַהּ (Gabahh) beteken letterlik: "opgerig, verhef, na bo gerig, vol moed wat sweef in die hoogtes."
Wow, Josafat se hart was vol moed in die wil en weë van die Here omrede sy hart na bo gerig was en wat ast ware gesweef het in die hoogtes!
Laat dink my toe sommer dadelik aan Paulus se woorde in Kolossense 3:1: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.”
Meeste van die Konings voor Josafat het regeer met harte wat gerig was op hulle weë en wil, met hartsbegeertes vir politieke sukses en militêre mag, rykdom en mense, terwyl Josafat net die Here wou behaag, en selfs die heilige boomstamme en die afgod-aanbiddingsplekke afgebreek het.
Sien Josafat se hart was moedig en nie gevul met vrees vir wat die mense sou dink nie, maar n hart wat ook God se wil en weë aan die mense wou bekend maak.
Josafat se hartsbeskrywing laat dink my toe ook aan hoe Paulus in 2 Timotheüs 1:7 geskrywe het: Want God het ons nie gegee ’n gees van vreesagtigheid nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. En dan ook hoe Hebreërs 10:22 ons herinner om met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid toe te tree, omdat ons harte deur besprenkeling gereinig is van 'n slegte gewete en die liggaam gewas is met rein water.
Aaah jy sien, deur ons geloof in Christus kan ons harte ook voor God moedig wees in vrymoedigheid, in sekerheid, want vanuit ’n opregte hart gereinig is deur die bloed van Jesus en met n gees wat gevul is met krag liefde en selfbeheersing leef ons.
Ja wat 'n voorreg om herinner te word aan 'n moedige hart in die Here, sodat ons in Christus volkome kan leef met n nuwe, rein en moedige hart gerig op die wil en weë van God in Christus, en so ander bedien en begelei om ons Koning, Jesus Christus se wil en weë helder en duidelik te aanskou.
Amen