Skip to Content

Vrugte of blare?

30 Maart 2026


Markus 11:12-13 EN die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad; en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.

Jare gelede, op hierdie eindste Maandag, het Jesus na 'n vyeboom gegaan op pad na Jerusalem, in die hoop om vrug daaraan te vind.  Nou al was dit nie die tyd vir vye nie, moet jy onthou, ons praat hier van Betanië, en Betanië beteken: "HUIS VAN VYE!"  Sien Betanië was juis bekend daarvoor gewees dat hul vyebome regdeur die jare vrug dra.

Moenie dit nie mis nie - die vyeboom waaraan Jesus geen vrug gevind het nie, het heengewys na Israel destyds, wat op 'n afstand goed gelyk het met al hul godsdienstigheid, maar sonder vrug.

Tog is dit wat op hierdie Maandag gebeur het jare gelede ook vir ons n herinnering dat godsdiens op n afstand goed en aanloklik mag lyk, maar wat sal Jesus werklik aan ons vind, vrug of net blare? Kan jy jou Jesus se teleurstelling indink toe Hy niks behalwe blare aan die vyeboom vind nie, en dit juis in die streek bekend as die "huis van vye?"

Onthou jy hoe Jesus tydens Sy bediening baie keer die voorbeeld gebruik het dat ons soos n boom is wat aan sy vrug geken word?  As ons in Christus is, sal ons nie net blare dra nie, maar ware vrug wat voortvloei vanuit Sy lewe in ons.

As mens so van die vyeboom se blare lees, dan kan mens ook nie anders as om terug te dink aan hoe Adam en Eva hul skaamte na die sondeval met vyeblare probeer bedek het nie.  Kan jy sien hoe dit profeties na ons almal verwys wat ook met ons beste dade en veral godsdienstige bedrywighede ons skaamte en naaktheid probeer bedek?

Dit is juis waarom Jesus weer die tempel op hierdie dag ook gereinig het nes Hy op die Sondag gedoen het, gaan lees maar Markus11:11-16, want wat Christus gesien het toe Hy weer die tempel binnegegaan het op hierdie dag, was net mooi dieselfde godsdienstige praktyke en patrone - presies soos die vorige dag met geen verandering van hart nie.

Wat jy by Israel as nasie gesien het, was dus n vyeboom met blare, wat op n afstand lewendig en belowend gelyk het, sonder enige ware vrug.  In die lig van die gebeure jare en jare gelede op hierdie dag, wat sal Jesus aan ons vandag vind?  En moenie vergeet nie, daar is n wêreld om ons wat honger is na die waarheid van Christus.

Mag almal wie ons pad kruis die vrug van Jesus se voltooide werk in ons sien en die vrug van die Gees vind sodat hulle kan smaak en sien dat God goed is!

Amen

 

Share this post
Tags
Archive
God judging sin
27 March 2026