Luister hier
Galasiërs 6:14 Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.
Die Griekse woord καυχᾶσθαι (kauchastai) beteken: "Dit is my roem, dit is my trots, dit is die rede waarom ek my kop omhoog kan hou."
Paulus het hierdie woord gebruik om duidelik te bely dat daar slegs een rede was waarom hy kon roem, een rede waarom hy trots kon leef en sy kop omhoog kon hou maak nie saak wat nie: die kruis van onse Here Jesus Christus.
Paulus wou deur sy skrywe destyds elke gelowige in Galasië mooi laat verstaan wat die kruis van Jesus in sy lewe beteken het: ALLES!
Paulus het nerens maar nerens bekend gemaak dat hy trots was op sy dade, sy werke, sy opofferinge of selfs sy impak in mense se lewens nie, glad nie, net die kruis van Jesus Christus.
Menige mense in Galasië destyds het begin rondloop met trots op grond van hul godsdienstige ywer en opofferinge en toewyding aan die Here, en dis hoekom Paulus hulle herinner het dat die nuwe skepsel in Jesus, nie kom vanuit ons dade of ywer of self opofferinge nie, maar slegs vanuit Jesus se kruisdood en wat Hy daardeur in gelowiges se lewens kom bewerk het!
So n Christen kan verseker roem en lewe met trotsheid, in die kruis van Christus en wat Jesus daardeur in ons bewerk het.
n Nuwe skepsel in Christus se lewe is ook nie 'n vertoning van wat ons alles vir die Here doen in die vlees nie, maar dis 'n lewe wat met trots getuig van wat God met ons en in ons kom bewerk het deur Jesus se kruisdood.
Paulus het bekend gemaak dat al bied selfs die opregste Christen geleenthede vir werke en godsdienstige ywer en rituele, dit geen werklike krag dra nie, want net die kruis van Jesus maak ons werklik dood vir die wêreld en laat ons leef as nuwe mense.
Sal dit nie wonderlik wees as alle gelowiges in Christus tot die volle besef kan kom watter voorreg dit is om volkome te kan roem in die werk van Jesus, en glad nie op ons werke of ywer vir Hom nie?
Mag jy ook saam met my soos Paulus bely dat wat ons betref, ons nooit enige rede het om te roem nie, behalwe natuurlik in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir ons gekruisig is en ons vir die wêreld.
Amen