Skip to Content

Wat maak jy hier?

19 Junie 2026

1 Konings 19:9 En hy het daar in n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom en vir hom gesê: "Wat maak jy hier, Elia?"

Elke keer as ek hierdie woorde van die Here aan Elia lees, besef ek hoe maklik ons almal nie altyd wil wees waar ons moet wees nie, en dat waar ons moet wees ook nie altyd waar ons wil wees nie.

Net nadat Elia destyds 450 Baäl profete op die berg Karmel verslaan het en die hele volk Israel en al die Baalaanbidders bewys het dat slegs die Here God is en daar geen ander gode naas Hom is nie maar valse gode is, lees ons tog dat een leuen van die bose koningin Isebel tot gevolg gehad het dat Elia vir sy lewe gevlug het, een leuen.

Die ding is egter, wat met Elia gebeur het, gebeur tot vandag toe nog met gelowiges in Christus, want sodra hul opstaan vir Jesus, sal daar altyd teekanting en weerstand kom.  En nes Elia gevlug het en in n spelonk gaan wegkruip het, is dit die poging van elke aanslag van die vyand, maak hom of haar stil, kry die lig uit die pad uit, laat die leuen vrees opbring.

Maar sonder om enige krediet aan die bose te gee, die vraag is egter wat ons maak met die Here se vraag: "Wat maak jy hier?" Want soveel christene vlug as te ware van die lewe in Christus agv omstandighede of  teekanting en leuens!

Menige Christene kruip weg met hul roeping in Christus en bêre as te ware hul Geestelike gawes, bloot omrede hul die leuen glo soos Elia gedoen het.

 Teekanting, vervolging en aanslae op jou geloof in Christus sal altyd daar wees en altyd poog om jou stil te maak en te laat vlug en wegkruip sodat jy oneffektief kan wees in die Koninkryk van God.

Maar prys die Here dat Hy ons nie los wanneer ons vlug en wegkruip en onsself in die spelonk bevind nie, nee, nee, hoor net wat Hy vra: "Wat maak jy hier?"

Want ons roeping tot n lewe in Christus behoort alles behalwe in n spelonk, alleen, weggesteek, al voel jy soos Elia veiliger weg van alles en almal se woorde wat seermaak en die kritiek en teekanting en aanslae wat jy beleef.  Die waarheid is egter dat ons kragtig is in die Here en in die krag van sy sterkte met die volle wapenrusting van God wat ons staande laat bly teen die liste van die duiwel!

Ons hoef nie in Christus te vlug, weg te kruip of onsself op n plek soos n spelonk in die gees te bevind nie, want anders sou die vraag nie wees: "Wat maak jy hier?" nie.  Mag elke gelowige in Christus onbeskaamd leef in Christus nes die woorde van 1 Korinthiërs 16:13 getuig: Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.

 

Amen

Share this post
Tags
Archive
Hidden in Christ
18 June 2026