Skip to Content

Wie is julle?

21 Mei 2026

Handelinge 19:15 En die bose gees antwoord en sê: “Jesus’ ken ek, en van Paulus weet ek; maar julle, wie is julle?”

Jyt sekerlik al erens gehoor van die sewe seuns van ’n Joodse Owerpriester met die naam Skeva, nie waar nie?  Wel hierdie 7 manne het gekyk hoe Paulus bedien in Efese en hoe Paulus selfs bose geeste uitgedryf het in Jesus Naam.

Nou kom ek laat Handelinge 19:13 self vir jou vertel wat hierdie 7 manne toe gaan staan en doen het: “En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê: "Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!”

Jy sien, hulle het nie regtig vir Jesus geken nie, maar wou in Sy Naam optree!

Daarom lees ons dat die bose gees selfs vir hulle terug geantwoord het om te sê hy weet wie Jesus is, en hy weet wie Paulus is, maar hy weet nie wie hulle was nie.

Ken jy vir Jesus?  Of is dit: "die Jesus van ons kerk," of "die Jesus soos ons glo," of "die Jesus wat ons prediker of ds of pastoor oor praat."  Die 7 seuns van Skeva was wel bekend met die Naam van Jesus, maar hulle het Hom nooit geken nie.

En ja hulle was die seuns van die bekende Owerpriester Skeva, en het sekerlik godsdienstig grootgeword, maar hulle het nooit die Here Jesus self geken nie, en tog wou hulle in Sy Naam optree.

In plaas daarvan om hulle tot Jesus te bekeer en in Jesus te glo, sou hulle Hom leer ken en vanuit die krag van die Heilige Gees kon leef in Jesus Naam, maar ongelukkig doen hulle wat baie mense tot vandag toe doen: kopieer wat hulle in ander gelowiges sien en doen.

Luister liewe vriend, die vyand waarmee ons elke dag te doen het weet of ons in Christus is of nie, en of ons Hom regtig ken of nie.

Maar prys die Here, Hy wil hê ons moet Hom ken en bo alles, dat ons deur Hom geken word!  Vanuit Sy genade, deur geloof in Christus Jesus, kan ons leef soos Paulus en Petrus en Johannes en Jakobus en die res van die gelowiges waarvan ons in die boek Handelinge lees, vervul met dieselfde Heilige Gees, en optree soos Hy ons lei vanuit geloof in Jesus Naam.

Want dan weet die vyand presies wie jy is, n gelowige in Christus, geken deur Hom en iemand wie Hom ken en leef in Sy Naam.

Amen

Share this post
Tags
Archive
Through Him and in Him
20 May 2026