Psalm 119:2-3 Welgeluksalig is die wat Sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie; maar in Sy weë wandel.
Wat maak jy met God se getuienisse, soos bv. die getuienis van die Skepping, die vloed, Sy getuienis met Abraham en al die geslagte daarna, Moses en die Israeliete in Egipte en daarna, die getuienisse van die profete en natuurlik die getuienis van Christus.
Natuurlik dra almal van ons ook getuienisse, dinge wat ons gebeurtenisse verwoord en 'n kritiese deel uitmaak van wie ons is en waarom ons doen wat ons doen.
Maar die eintlike getuienisse waaraan ons hoort vas te hou is God s'n, en die belangrikste van almal, God se getuienis aangaande Jesus.
Nou Psalm 119 herinner ons aan 'n kosbare belofte: dat diegene wie die HERE se getuienisse bewaar, geseënd en gelukkig sal wees!
Dis baie keer verrykend en kosbaar om te luister na ander mense se getuienisse, soos dinge waardeur hulle gegaan het en wat hulle ervaar het en hoe dit hulle altyd sal by bly, veral daardie getuienisse van God se getrouheid en ingrype en hoe Hy wonderbaarlik net gered en genees en verlos en voorsien het.
Maar nes die Psalmdigter ons herinner aan God se getuienisse, is daar een getuienis van Hom waarvan Johannes getuig het wat ons elkeen hoort te bewaar en daai getuienis word uiteengesit in 1 Johannes 5:9-11 wat sê: As ons die getuienis van die mense aanneem — die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun.
Ek wil jou saam met die Psalmdigter herinner vanoggend: Bewaar God se getuienis van Sy Seun, en bly in Sy weë agv hierdie getuienis wat ook jou getuienis hoort te wees.
Want daar sal altyd ander getuienisse wees wat ander weë voorhou, maar onthou, daar is net een ware Evangelie, een getuienis wat ewig saakmaak, God s'n aangaande Jesus en daai getuienis sluit jou en my in.
Wat maak jy met hierdie getuienis van God?
Want as hierdie getuienis jou getuienis is en jy hiervanuit en daarvanaf leef, sal jy geseënd en gelukkig wees en verseker nie in ongeregtigheid wandel nie, en die getuienis van jou lewe sal basies in een woord, een naam opgesom kan word: Jesus.
AMEN